Local newsNews

Boom van 132 jaar afgekap

Sedert 1890 het die akkerboom in Kantoorstraat 41 die inwoners aan die geskiedenis van die dorp en vroeër generasies herinner.

Alhoewel daar al die afgelope 132 jaar soveel ontwikkelinge was, het die boom steeds sy takke trots gedra. Generasie ná generasie het geweet dit is die akkerboom waaronder pres. Paul Kruger die inwoners oor ‘n moontlike oorlog tussen Brittanje en Suid-Afrika kom toespreek het. Dit was nege jaar voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog (1899-1901).

Ook het die Steyn-familie vir bykans 30 jaar die boom met ‘n arendsoog opgepas toe hulle daar gebly het. Elsje Jacobs (née Steyn) het op Facebook gesê: “As kinders het ons ouers nie eers toegelaat dat die takke van die boom gesny word nie.”

Haar pa, oom Hannes Steyn, was vir jare die eienaar van die huis en erf. Die nuus dat die ontwikkelaars op Donderdag 28 April die gevreesde kabels en toue gespan het wat merk waar die ou akkerboom ná 132 jaar sou val, het sosiale media warm onder die kraag gehad. Binne ‘n paar uur het die inskrywings op Steelburger/Lydenburg Nuus se Facebook-blad duisende lesers bereik. Van die lesers se kommentaar was minder sentimenteel, en ander het weer gesê dit maak plek vir vernuwing.

Teen Dinsdag 5 Mei het die ontwikkelaar nog die taak gehad om die boomstomp te verwyder. In Desember het hy die koerant oortuig dat hulle weet die boom het geskiedkundige waarde. Die ontwikkelaar het egter nie sy woord gehou nie. Tóé het hy belowe: “Ek het die argitek gevra om die bouplanne netjies om die boom te trek.” Dinsdagoggend (3 Mei) het hy die koerant weggejaag met “It is my property, I will do what I want!”

In Lydenburg Nuus van 20 Augustus 1976, het prof. B.V. Lombaard die lesers na ‘n foto van Kantoorstraat in 1903 verwys. Daarop kan twee lang bome links bo in die hoek van die foto gesien word. Prof. Lombaard het gesê die bome blyk die een in Kantoorstraat 39 en die ander in 41 se erwe te wees. Maar volgens oorlewering is die boom wat afgekap is, die een waaronder pres. Paul Kruger vergader het, in Kantoorstraat 41 gewees. Hy het ook gesê hy kan nie met sekerheid bevestig nadat hy met baie mense onderhoude gevoer het, dat die akkerboom van Kantoorstraat 39 of 41 die spesifieke boom is waaronder pres. Kruger gestaan en praat het nie. Beide bome was egter in die 1903-foto te sien, wat die akkerboom wat afgekap is net so histories maak.

In ‘n foto van 1903 kan die akkerboom gesien word. Prof Lombard het wel geskryf in 1976 dat nie kan bepaal word of die akkerboom in Kantoorstraat 39 of 41 gestaan het nie. Die Kantoorstraat 39 boom is reeds jare gelede verwyder. Beide bome was egter in die 1903-foto te sien, wat die akkerboom wat afgekap is net so histories maak.

Die berig van prof. Lombaard kom uit die Lydenburg Museum se argief: “Daar is stryde getuidenis met die vertroubare geskiedenis rondom die akkerboom waaronder pres. Paul Kruger blykbaar in 1890 vergader het. Eerstens het wyle Susie Ruyter aan Sias Combrink vertel dat die bestaande akkerboom te Kantoorstraat 41 nie daardie boom is waaronder pres. Kruger vergader het nie. Volgens haar het die vergadering plaasgevind onder ‘n groepie akkerbome, wat dieper in die erf van Tom Euverard gestaan het, te Kantoorstraat 39. Pres. Kruger het op die bankie tussen twee van die bome gestaan terwyl hy gepraat het. Die bome is later deur Con Quinlan verwyder. Tweedens getuig die meegaande foto, wat omstreeks 1903 op die hoek van Voortrekker- en Kantoorstraat geneem is, as getuienis. ‘n Watervoor dwarsoor Kantoorstraat, sowel as een aan elke kant van die straat, is sigbaar. Daar is ook geen twyfel dat die straat afdraande geloop het in die rigting van die twee watervore nie. Effens nader aan die twee verste lang bloekombome verskyn ‘n kleiner digte boom, wat moontlik die bestaande akkerboom in sy jeug voorstel.” (sic)

Duncan Ballantyne, die voorsitter van Mpumalanga Erfenis, ‘n geregistreerde burgerlike organisasie vir die behoud van die provinsie se kulturele en historiese erfenis, sê dit is altyd jammer wanneer enigiets van tasbare historiese belang tot niet gemaak word. Die boom is sowat agt jaar gelede tydens ‘n historiese dorpstoer van ou Lydenburg aan hom uitgewys, toe lede van Mpumalanga Erfenis ‘n besoek afgelê het. Daardie dag is ook die gedagte uitgespreek van ‘n historiese roete na die ou geboue en plekke van historiese belang in en om Lydenburg. Die boom was nie op openbare grond of ooit op enige wyse as ‘n historiese gedenkwaardigheid gelys nie, en dit het ‘n eienaar altyd vrygestaan om met die boom te maak net wat hy wou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button