Local newsNewsNews

Hoe flink kan julle dink? Skryf in en vind uit!

Kom wen lekker pryse met jou kennis saam met Innibos!

Kry jou slimste en skerpste vriende bymekaar en skryf as ‘n span in vir Innibos se tweede Flinkdink op Donderdag 18 Mei om 18:00.

Soos verlede jaar word dit weer by die gesellige Suikerbossie-teetuin aangebied.  Hierdie Flinkdink gaan nie net jou algemene kennis toets nie; in die Noot vir Noot- en Beat the intro-afdelings kan die spanne mekaar lekker troef met hul musiekkennis en luistervernuf.

Die woordgeeste kan op hul beurt hulle slag met die blokraai wys, terwyl almal ‘n gelyke kans staan in die gelukspel, Bingo.  Vanjaar strek die pret en vermaak nóg verder: In die laaste Olimpiade-afdeling sal die Suikerbossie-spanne teen die luisteraars van Radio Laeveld meeding. Skakel in indien jy nie self by Suikerbossie kan wees nie, maar nie die uitdaging wil misloop nie.

LEES OOK: Gewilde sangers tree op by die Watervalsrivier Sitrus Kuierfees

Daar is groot pryse op die spel. Verlede jaar het die Wysneuse, onder leiding van Ronelda Jordaan, met die louere weggestap, met Nagkantoor kort op hul hakke. Wie gaan hierdie jaar as die flinkste denkers gekroon word?

Spanne van vier of ses persone kan inskryf. Die inskrywingsfooi is R150 per persoon en sluit ‘n heerlike ete by Suikerbossie in. Met hul aankoms word die gaste sjerrie en heerlike sop en brood aangebied. Later die aand gaan die gaste met geurige braaivleis en pap en nagereg bederf word.

Neem kennis dat slegs kontant by die kontantkroeg aanvaar word.

Laai die inskrywingsvorm op Innibos se webtuiste by www.innibos.co.za af. Vir verdere navrae, skakel Alison Linde by 082 460 3855.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button