Local newsNewsNews

Poësie en musiek in jou Laeveld-huis

Die musikant Frazer Barry en akteur Johny Klein was verlede week deel van die eerste van drie Innibos In jou huis-musiekteaters.

Innibos het verlede jaar met groot sukses die In jou huis-konserte aangebied, en brei dit vanjaar verder uit met hul nuwe In jou huis-musiekteater.

In die eerste konsert op 4 Mei het die musikant Frazer Barry en akteur Johny Klein kragte saamgesnoer in ‘n produksie waar woord en lied op ‘n besonderse wyse aangebied is.

Dit is alles aan huis van Marlene en Johan Pretorius gehou. Die gaste het hulself gemaklik voor die Pretoriusse se stoep, wat as die twee se verhoog gedien het, gemaak. Klein het gedigte meesterlik voorgedra terwyl Barry die begeleiding verskaf het. Dan het hulle weer afgewissel met sang van Barry se kant af.

Johny Klein en Frazer Barry.

Hulle het selfs die gehoor deel van een van die liedjies gemaak. Klein het erken hy is eintlik doodbang vir sing en het gestaan en bewe toe Barry hom óók laat sing, maar het tog elke oomblik daarvan geniet.

Die gashere sê hulle is getroue ondersteuners van Innibos en dit was vir hulle ‘n voorreg om die eerste van dié konserte aan te bied.
Barry het teatergangers al nasionaal en internasionaal met sy sielvolle musiek met ‘n sterk Afrika-aanslag betower. Hy was by verskeie musiekteaterproduksies soos Lepeltjie vol snare, Woorde op akkoorde en die bekende Adam Small-produksie, Kô lat ôs sing, betrokke.

Frazer Barry en Johny Klein.

LEES OOK: Gewilde sangers tree op by die Watervalsrivier Sitrus Kuierfees

Hy is al met verskeie Kanna-toekennings en kykNET Fiëstas bekroon. Sy musiekrepertoire van genres wissel van Afrika-ritmes, blues, funk en folk tot reggae, jazz, rielmusiek en hip-hop. Hy is ‘n deurwinterde musikant, komponis, musiekvervaardiger, sanger, rymkletser, skrywer en digter.

Klein is ‘n bekende Afrikaanse akteur en stemkunstenaar en het al in vele produksies, soos Liewe Heksie en Jan en die boontjierank, opgetree. Vir Lefra Produksies het hy in die klug My vrou se man se man se skelmpie en Flennie die snare saam met Chris Chameleon gespeel. Hy het ook uitgeblink in die rol van Selling Komoetie in Fiela se kind waarvoor hy die toekenning vir beste byspeler verower het.

Hy is ‘n veelsydige akteur wat al by ‘n magdom televisie- en filmwerk betrokke was. Hy is veral bekend vir sy voorlesings van Ferdinand Deist se kortverhale op RGS en bring hierdie verhale tot lewe in sy Pomporrelkonserte.

Frazer Barry.

LEES OOK: Rooikatte maak skoonskip op Malelane

Met dié twee talentvolle kunstenaars was hierdie musiekteater iets uit die boonste rakke. Die konsert is ook deur Radio Laeveld uitgesaai.

Die gaste wat die konsert bygewoon het, se skenking word aan KANSA gegee, ‘n liefdadigheidsorganisasie wat die gasvrou, Marlene, na aan die hart lê.

Die volgende optredes waarna die Laeveld kan uitsien, is Bibi Slippers en Jak de Priester op 1 Junie by Sarita Retief, en daarna Koos Kombuis en Andries Bezuidenhout op 5 Oktober by Anton Bosch.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button