Dinge kom in drieë – luislange óók by die Nelspruit Dierehospitaal
'n Veearts vertel hoe drie luislange onlangs by die praktyk behandel is, en brei ook uit oor die bewaring van dié spesie.
“Ons sê altyd as daar so iets interessants kom, dan kom dit gewoonlik in dries,” sê een van Nelspruit Dierehospitaal se veeartse nadat daar in ‘n kort tydperk drie luislange by hul praktyk opgedaag het.
Die eerste was bloot ‘n troetelluislang, maar die tweede een het meer uitgestaan. Dit is met ‘n rantsnyer tydens ontbossing buite die stad raakgesny.
Hulle het Wild and Free Wildlife Rehabilitation ontbied om hulle met die slang te help, wat die reptiel in dr. Heinrich Henzen se bekwame hande by die praktyk gelaat het.
“Luislange is maar ‘n beskermde spesie, so ons probeer hulle red terwyl ons kan. Daar is baie min in die omgewing, veral dié wat natuurlik voorkom,” sê Henzen.

Die slang het ongeveer 8 kg geweeg, was plus-minus 2 m lank (volgroeid kan hulle tot 4 m lank word) en tussen vier en vyf jaar oud. Daar was groot hale oor die hele liggaam waarna die span moes omsien.
“Onthou, ‘n luislang is ‘n konstriktor; die spiere en senuweestelsel is gemaak om te rek en te skuif en te druk. Logies moet ‘n mens nou mooi dink óf ‘n mens steke kan insit en hóé ‘n mens steke kan insit.” Henzen sê die belangrike ding hier was maar om die gate toe te kry – as die snye oop is, is die kanse vir infeksie baie groter.
“Ons het die wonde mooi uitgespoel, toe is die slang in die areas doodgespuit waar ons die steke ingesit het.” Hierna is pynstillers en antibiotika toegedien.

Sou die slang nou weer iets groots vang om te eet, verduidelik Henzen, sou die steke miskien ‘n bietjie loskom, maar teen daardie tyd het dit klaar die doel gedien wat dit moes.
Annecke van Schoor van Wild and Free het oorgeneem vir die herstelskof en die slang is kort daarna weer vrygelaat. Die derde luislang van Hazyview het sere in die mond gehad wat behandel is.

ALSO READ: SANParks offers several public-private partnership investment opportunities
Wanneer dit by die bewaring van die spesie kom, sê Henzen, is die groot ding bewustheid onder mense; oor die feit dat die slange ‘n bedreigde spesie is en ook dat daar mense is wat opgelei is om hulle te vang – jy hoef hulle nie dood te maak nie.

Selfs al vang hulle dalk kleiner diere op jou plaas, kontak die regte mense sodat hulle die slang kan kom verwyder. Dit word daarvandaan in groot reservate vrygelaat, wat in elk geval beter is as om by jou hoenderhok te wees, sê Henzen.
Hy sê verder dat die belagrikste ding om te doen wanneer ‘n slang oor jou pad kom, is om jouself te beveilig. Dan bel jy die kundiges. “Moenie braaf wees en jouself onnodig in gevaar stel om dit te probeer van kant maak nie.”
Wild and Free kan by 079 988 5748 gekontak word.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.
For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder
For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
