Local newsNewsNews

NHS Variété 2022-opvoering skep ‘n blywende indruk

NHS se produksiespan en leerders het hulself vanjaar oortref met die ekstravaganza wat hulle aan die gehoor gebied het.

As jy in die gehoor van Hoërskool Nelspruit se Variété 2022 was, was jy vir seker deel van ‘n een-keer-in-‘n-leeftyd-ervaring.

Die verskeidenheid liedjies gesing deur talentvolle soliste, uitstekend gechoreografeerde danspassies en talle verhoogverrassings het dié produksie onvergeetlik gemaak.  Vanjaar se vertoning is in die skoolsaal aangebied. Die skool is hierdie jaar 70 jaar oud en musiek deur die eras heen was die tema van hierdie vieringe.

Nakita Pretorius en Neels van Dyk.

Wikus van Biljon en Ronel Basson het as die programleiers opgetree. Ronel het gedurende die aand in ses verskillende stylvolle ontwerpersrokke verskyn en het saam met Wikus die verskillende temas van musiek voortreflik oorgedra.

Die eerste deel van die vertoning se musiek en danse is op die laaste dekade van musiekhoogtepunte gebaseer. Die talentvolle Zimri Leuvennink het die vertoning ingelei met haar weergawe van “Little Bird”, waarna die sjarmante Dewald Vorster Sam Smith se “Stay With Me” gesing het.

Marnieke Pretorius tydens die “Dance Monkey”-nommer. > Foto’s: HH Photography & Design

Daarna is konsertgangers se asems weggeslaam deur Berno Venter se weergawe van Shawn Mendes se “Wonder”. Hier het die produksiespan werklik alles uitgehaal. Berno het teen die einde van sy liedjie bo-op ‘n vleuelklavier in die middel van die verhoog geklim. Wat gevolg het was bes moontlik dié trefferoomblik in die vertoning, toe water skielik uit ‘n sprinkelaar teen die plafon op Berno uitgereën het terwyl hy met arms omhoog die liedjie se laaste note gesing het.

LEES OOK: Dinge kom in drieë – luislange óók by die Nelspruit Dierehospitaal

Die volgende tema was filmmusiek uit Frozen, Footloose en Beauty and the Beast. Die vernuftige dansers, Jodi dos Santos, George Bouwer en Nicolas Smook, het gesorg vir ‘n onvergeetlike oomblik met hul danspassies op die liedjie “Never Enough” vanuit The Greatest Showman, met oorgawe gesing deur Chanel Koch wat reeds in 2021 haarself as solis bewys het.

Daar is ook hulde aan vrouesangers van die laaste eeu gebring. Ester de Kock het emosie ontlok met “Don’t Cry for Me Argentina” en met “Proud Mary”, gesing deur Immaracia Masuku, is die vloer warm gedans. Beyoncé se “Single Ladies”, gesing deur Zimri, se choreografie was ook uit die boonste rakke.

Zimri Leuvennink.

Volgende het Edu van Staden se diep stem met die “Sound of Silence” deur die skoolsaal geëggo.  Net toe die gehoor wonder wat méér hoendervleis kan gee, het Marnieke Pretorius “Bohemian Rhapsody” gesing soos jy dit nog nooit gehoor het nie.

Die laaste gedeelte van die vertoning is aan Afrikaans opgedra. “Bobjan”, gesing deur Juvan Sevenster, “Blouberg se strand” deur Jomarié du Toit en “Redgebed” deur Neelsie van Dyk is puik uitgevoer en het nie ‘n tree teruggestaan vir die eerste helfte nie.

LEES OOK: Voëls van verskillende vere pronk by i’langa Mall vir sierduifskou

Die programleiers het aangekondig dat dit nou die einde van ‘n hoofstuk was, maar daarmee saam kom daar ‘n nuwe hoofstuk! NHS sien reikhalsend daarna uit om steeds jaarliks ongelooflike produksies op die planke te bring.

Dewald Vorster.

Met soveel talent op een verhoog is dit byna onmoontlik om van elke item en leerder in ‘n berig melding te maak. Hou dus NHS se sosiale media dop om die skakel te bekom om hierdie produksie te koop en aanlyn te kyk. Dit is ‘n besliste moet-sien.

Die skool bedank graag Signature Performing Arts and Theatre Technology vir die puik choreografie en produksiebestuur. Die NHS-produksiespan, onder leiding van Ezette Mans, verdien egter ‘n besondere pluimpie vir die organisering en uitvoering van hierdie puik produksie.

Adrienne Combrink en Berno Venter.
Nakita Pretorius en Neels van Dyk.
Benro Venter.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button