Dinge van ‘n kind in die Laeveld verskuif grense
Marita van der Vyver het die Laeveld en haar alma mater, Hoërskool Nelspruit, besoek, net voor die TV-reeks, Dinge van 'n kind, op kykNET begin uitsaai het.
Die opwindende TV-verwerking van Marita van der Vyver se roman, Die dinge van ‘n kind, het op 10 Mei op kykNET (DStv-kanaal 144) begin. Hierdie bekroonde skrywer is in 2021 by NHS se prysuitdeling as oud-Nellie wat die palmtak met waarde dra, met ‘n erepenning vereer.
Die skool sê dit was ‘n groot voorreg om Marita en haar man, Alain, op die vooraand van die eerste episode van die reeks by die skool te verwelkom.
“Dit is hier, by Huis Maré, waar Marita haar skooljare deurgebring het. Sy onthou nog die stilte van die studiesaal, die lang gang tot by haar kamer en die klok neffens haar deur,” sê die skool. Die reeks is elke Dinsdagaand op kykNET te sien. Die derde episode word op 24 Mei uitgesaai.

In ‘n verklaring deur kykNET uitgereik, gesels die vervaardigers ‘n bietjie meer oor die reeks. “Hierdie is ‘n treffende verhaal en die tipe storie wat ons graag bly vertel,” sê die vervaardiger, Scharl van der Merwe van Nagvlug Films. Nagvlug Films was vir rolprente soos Barakat en Wonderlus, asook TV-reekse soos Nêrens, Noord-Kaap en Skemerdans verantwoordelik.
“Toe Elanie Rupping, die medeskrywer van die reeks, saam met Henriëtta Gryffenberg na ons toe gekom het met die idee om die boek in ‘n reeks te omskep, was ons baie opgewonde.”
LEES OOK: Voëls van verskillende vere pronk by i’langa Mall vir sierduifskou
Die reeks speel af in drie tydvakke – 1975/76, 1992 en nou. Die rede vir dié besluit, verduidelik Van der Merwe, was om ‘n reeks vir ‘n wyer gehoor te maak. “Een vir oud en jonk en iets nuut vir mense wat reeds die boek gelees het.”
“Ons het die industrie laat weet ons maak ‘n reeks en die terugvoer was oorweldigend,” sê Zandré Coetzer, medevervaardiger en ook regisseur van twee van die 10 episodes. Die reeks, soos die boek, spreek kwessies soos ontwakende seksualiteit en politieke bewustheid aan.
“Die temas is al vir lank die olifant in die vertrek en gaan vir seker nog langer so wees,” sê Coetzer. “Ons hoop dat die reeks oop en eerlike gesprekke oor die temas sal aanwakker.”
LEES OOK: Dinge kom in drieë – luislange óók by die Nelspruit Dierehospitaal
Die reeks het drie regisseurs. Benewens Coetzer was Quentin Krog en Tinarie van Wyk Loots aan stuur van sake met die kameraregisseur, Marius de Nysschen, wat saam met hulle gewerk het om eenvormigheid in die vertelstyl te behou.
Mart Vermaak is die hoofkarakter in die roman. In die TV-reeks speel Melissa Myburgh die rol van jong Mart, Cintaine Schutte is Mart in die 1990’s en Susanne Beyers is die hedendaagse Mart.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.
For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder
For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
