AdvertorialBusinessNews

GROOTfm 90.5 … nog groter!

GROOTfm 90.5 is ‘n Pretoria-gebaseerde gemeenskapsradiostasie wat onlangs nog groter begin droom het! Omroepers is uitgedaag om hul "droomuitsendings" as deel van ‘n digitale strategie vir die stasie te identifiseer, om veral op hul luisteraars en ondersteuners buite die Pretoria-omgewing - hul onmiddellike uitsaaigebied - te fokus, en tegelykertyd volhoubare vermaak aan hul Gauteng-"familie" te verskaf.

Annelie Bouwer, die omroeper van #BrunchMetAnnelie, weeksdae tussen 09:00 en 12:00, het eerste gedroom van ‘n buiteuitsending in die Nasionale Krugerwildtuin. Na ‘n paar gesprekke met Isaac Phaahla, die hoof van kommunikasie en bemarking, het hierdie droom vinnig ‘n werklikheid geword. Hierdie “droomuitsending” is moontlik gemaak, nie net deur die span van SANParke nie, maar deur ‘n borgskap van Immunadue, gewaardeerde kliënte en wildtuinentoesiaste van GROOTfm 90.5. Die span het besluit om dit saam met Wêreldomgewingsdag op Sondag 5 Junie te vier.

Die GROOTfm 90.5-span het op Woensdag 1 Junie die grense van Gauteng verlaat, en bevind hulself tans in die Skukuza-ruskamp. Die GROOTfm 90.5 se kleurvolle bussie staan naby die winkel binne-in die ruskamp. Hulle saai van 2 tot 3 Junie, vanaf 09:00 tot 12:00 restreeks hiervandaan uit. Op Saterdag vind twee uitsendings vanaf 06:00 tot 13:00 plaas. Nie net gaan #BrunchMetAnnelie daagliks uitgesaai word nie, maar ook die gewilde geselsprogram, Kom ons praat daaroor, waar ‘n paneel van vier omroepers relevante kwessies in diepte aanspreek, in kombinasie met ‘n paar tong-in-die-kies-oomblikke!

Inhoudsgesprekke oor natuurbewaring, en spesifiek praktyke in en om die wildtuin, gaan gevoer word. Dit sluit gesprekke in oor die onder andere die teenstropingseenheid en olifantbevolkingsbestuur, toerismeaantreklikhede en -aktiwiteite, en ‘n wetenskaplike benadering tot biodiversiteitbestuur.

Wanneer die teenstropingseenheid kom gesels, gaan GROOTfm 90.5 met behulp van skenkings en donasies deur luisteraars vanuit Pretoria tot en met die Komati-Voortrekkerkommando, 400 dankie-sê-pakkies uitdeel, vir die onbaatsugtige, lewensbedreigende werk wat lede van die eenheid elke dag ten bate van ons heerlike, biodiverse erfenis doen.

GROOTfm 90.5 nooi jou uit om in te skakel op FM 90.5 binne die grense van Gauteng, en via die GROOTfm 90.5-toepassing buite die Gauteng-grense. Gaan nie net saam met hulle bos nie, maar gaan ook groot!

Besoek die webtuiste

Besoek die Facebook blad

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button