Vrou wag nou om na Steve Biko oorgeplaas te word
Cornelia Botha (71) sal die res van haar lewe van 'n rolstoel, krukke of 'n prostese afhanklik wees om oor die weg te kom, nadat haar linkervoet afgesit moes word.

Laevelder het verlede week berig oor die traumatiese stryd wat Botha die afgelope weke in Rob Ferreira Hospitaal beleef het nadat sy met ‘n beseerde linkervoet opgeneem is. Na beweerde growwe nalatigheid van die dokters, het haar besering binne ses dae sodanig versleg, dat die weefsel aan haar linkervoet as gevolg van beperkte bloedvloei doodgegaan en begin verrot het.
Hoewel die dokters reeds drie dae na haar opname op Sondag 15 Mei deur middel van skanderings vasgestel het sy het ‘n bloedklont in haar been, het hulle glo niks daaraan gedoen of vir haar daarvan gesê nie.

Hulle het glo ook oor die diagnose dat Botha aan bilaterale perifere arteriële siekte ly, geswyg. Dit is ‘n toestand waar are verstop raak en dan bloedvloei belemmer en selfs tot bloedklonte lei.
Eers toe haar been voorverlede Saterdag erge weefsel afbreking getoon het, en sy as gevolg van lewer- en nierversaking aan geheueverlies begin ly het, het die dokters die omvang van haar toestand aan haar familie oorgedra.
LEES OOK: Heerlike kuier by Trout Inn se markdag
In daardie stadium het hulle reeds beplan om haar na Steve Biko Hospitaal in Gauteng oor te plaas, omdat Rob Ferreira nie toegerus is om die vaskulêre siekte te behandel nie. Die hospitaal het ook inderhaas weefselmonsters vir ontleding na Steve Biko toe gestuur sodat sy die korrekte behandeling kon ontvang. Die skoknuus van Steve Biko was dat haar been nie gered kon word nie en dit geamputeer moes word.
Haar kinders, Willie Botha en sy suster Lizel Habib, het verlede Dinsdag die onbenydenswaardige taak gehad om hulle ma in te lig oor haar kritiese toestand. Verlede Donderdagnag is Botha se voet tydens ‘n noodoperasie in Rob Ferreira net bokant die enkel geamputeer. Ten spyte daarvan dat die Departement van Gesondheid (DvG) in Mpumalanga nie verlede week op uitgebreide vrae van Laevelder gereageer het nie, was daar egter ‘n onmiddellike verbetering in die behandeling wat sy ontvang het.

Laevelder het vertroulik verneem dat kort na die klag onder DvG se aandag gebring is, het die senior personeel deur Botha se mediese lêer gewerk om vas te stel of daar tekens van nalatigheid was.
“Dit is steeds tragies dat dinge so ver moes gaan dat my ma haar been verloor en waarskynlik by die dood omgedraai het, maar daar was beslis ‘n groot verbetering in haar versorging,” sê Willie.
“Die dokter wat nou vir haar nasorg verantwoordelik is, is regtig wonderlik. Ons kon nie vir iemand beter gevra het nie.”
“Die dokter bel my twee keer ‘n dag om my op hoogte van ma se toestand te hou. Hulle het ook vir haar fisioterapie begin gee om haar met die aanpassing van om met net een been te loop, te help.”
Botha sou Dinsdag om 01:00 reeds met ‘n ambulans na Steve Biko oorgeplaas word, waar sy behandeling vir die bloedklont in haar lies en vernoude are moes ondergaan. Die ambulans het egter eers 09:00 opgedaag. Toe hulle Dinsdagmiddag by Steve Biko aankom, het die hospitaal geweier om haar op te neem omdat haar bed toe reeds aan ‘n ander pasiënt gegee is.
Sy is terugverwys na Rob Ferreira en word nou eers volgende week in Steve Biko opgeneem.
“Waardeur moet my ma nog gaan?” het ‘n ontstelde Habib Dinsdag gevra. “Ek is op met die patetiese behandeling van ons openbare gesondheidstelsel.”
Dumisani Malamule, die woordvoerder van die gesondheidsdepartement, het bevestig dat Botha na Steve Biko oorgeplaas moet word, aangesien Rob Ferreira nie oor die nodige fasiliteite vir vaskulêre prosedures beskik nie. Hy het ook gesê ‘n ondersoek is oor moontlike nalatigheid gedoen, maar geen bewyse kon daarvan gevind word nie.
LEES OOK: Innibos In jou huis skenk kontantbydrae aan KANSA
