Voormalige Laevelder met ”n hart groter as sy boarms’ sterf
Hy het 'n hart van goud gehad en altyd probeer om 'n verlore siel te help om die regte pad te vind. So sal Pieter Els, oorlede op 20 Junie, se familie en vriende van die Laeveld hom onthou.
Pieter Els (53) sal deur sy familie en vriende onthou word as ‘n man met ‘n groot hart, wat uit sy pad uit sou gaan om ander te help. Els het vir lank in die Laeveld gewoon waar hy in die motorbedryf was en ook sy eie sekuriteitsmaatskappy besit het.
Hy en sy vrou Tessa het egter drie jaar gelede eMalahleni toe getrek, maar dit het nie die liefde wat Laevelders vir hom gehad het, minder gemaak nie. Tessa sê hy het in Mei baie siek begin word, waarna hulle hom na ‘n hospitaal vir toetse geneem het.
Daar het die feit dat hy ‘n diabeet is, na vore gekom. “En toe vind hulle hy het hartversaking. Sy hart het net alles laat ingee en sy hele liggaam het geshutdown. Die hospitaal het hom daarvoor behandel en hy het geweldig baie gewig verloor; hy was vir 33 dae in die hospitaal. “Hy moes op 20 Junie ontslaan word, maar toe bel hulle en sê ek moet dringend kom.

Toe ek daar kom sê die dokter, ‘Jammer vir jou verlies.’ “Toe het ek niks geweet nie. Ek vra toe: ‘Watter verlies?’” Die dokter het haar toe meegedeel dat haar man om 10:30 oorlede is. Hulle was vir 19 jaar saam en is 16 daarvan getroud. “Dit laat ‘n baie baie groot leemte in my hart, want my man was my alles; my beste vriend en meer.”
LEES OOK: Mbombela-kunstenaar stel eerste album bekend
Sy sê hy was vir baie mense ‘n rolmodel en was ook ‘n baie liefdevolle persoon. “Hy het almal altyd ‘n tweede of ‘n derde kans gegee.” Een van Pieter se vriende, Chris Naudé, sê hy het slegs tere herinneringe van “Big Piet”. “Hy was nie net ‘n getroue ondersteuner van Phat Boys Beer House nie, altyd met sy gunstelingmaaltydversoek van ‘die grootste eisbein, ekstra crispy’, maar hy was ‘n goeie vriend.

“Hy het ‘n hart van goud gehad en het altyd probeer om ‘n verlore siel te help om die regte pad te vind, veral met die naweekjeugkampe vir diegene wat bietjie ekstra aandag nodig gehad het. “Geloof en familie was altyd vir hom ‘n top prioriteit. Ek en Carmen sal hom vreeslik mis. Dit was ‘n absolute eer en voorreg om hierdie legende te ontmoet en ken. Rus in vrede, my vriend.”
LEES OOK: Witrivier-spotprentkunstenaar teken nou vir Die Burger
Nog ‘n vriend, Marius Nel, sê: “Pieter was een van daardie ouens op wie jy eenvoudig sonder voorbehoud kon vertrou. Sy breë glimlag het die vertrek verlig en sy uitgelate lag was aansteeklik. “Op alle vlakke onverskrokke en toegewyd, met ‘n hart wat groter was as sy boarms. Ons salueer jou, eer jou nagedagtenis en gaan jou mis, Reus.”

So stem sy vriende saam oor die grootheid van sy lyf en sy hart. Werner Terblanche het hom jare gelede as “Body Buster” leer ken. “Toe trokke trek, voertuie omrol en atlasballe soos albasters rondgooi net deel van ‘n Saterdagoggend se vermaak was. “Daai reuselyf het altyd plek gehad om nóg iemand deel van die vriendekring te maak. Maar jy moes nie dat groot seun jou afskrik nie, die hart was maar klein.”

Terblanche sê die tye wat hulle saamgekuier het, was sy vrou, Tessa, sy dogter Melanie en sy seun Nathan altyd deel van die gesprek en altyd met lof. “Ek onthou nog die vreugde in jou stem toe jy bel en sê jy is nou ‘n oupa. My vriend, ek gaan ons chats mis, al was dit net om af te pak oor iemand wat jou gat gekrap het of besigheidsadvies. “Jy het diep spore getrap en jy laat ‘n groot leemte. Ek groet jou, my vriend, maar ek weet dit is nie vir altyd nie. Sien jou later weer…”
