Local newsNewsNews

So gaan dit met Mbombela se Wihan ‘n jaar ná ongeluk

'n Jaar gelede het sy lewe onherroeplik verander. Vandag is Wihan de Jager dankbaar vir almal wat hom gehelp het na hy sy been in 'n gru-ongeluk op die R40 verloor het.

Dit was Sondag, 26 Junie, presies ‘n jaar sedert Wihan de Jager (26) sy linkerbeen in ‘n gru- tref-en-trap-ongeluk op die R40 verloor het.

Hierdie fisies en emosioneel uitputtende reis het hom van die R40 tussen Witrivier en Mbombela, waar die motor wat in hom en sy bromponie vasgery het hom gelos het, na Rob Ferreira, na Kiaat Hospitaal en uiteindelik na M-Care geneem. Dít alles binne die kwessie van sowat drie maande.  Alhoewel hy verskeie beserings in die ongeluk opgedoen het, was die feit dat sy been bo die knie geamputeer moes word, die een wat die grootste impak op sy lewe gemaak het.

LEES OOK: Komatipoort Voories help met geskenkpakkies

Vandag is hy in ‘n vaste skedule van elke oggend opstaan en gimnasium toe gaan, waar sy persoonlike fiksheidsinstrukteur, Lucky Mngemezulu, toesien dat hulle sy linkerbeen gereed kry vir ‘n prostese.  Wihan en sy ma, Willa, het op 24 Junie saam met Laevelder in hulle leefarea om ‘n tafel gesit en vertel hoe die afgelope jaar hulle geraak het.

Só lyk sy nuwe badkamer. > Foto: Verskaf

Byna die eerste ding wat Willa gedoen het was om ‘n lys van name uit te haal.  Die individue en sakeondernemings op dié lys het almal daartoe bygedra dat Wihan net so ‘n bietjie gemakliker en beter ingerig sou wees die dag toe hy weer huis toe kon gaan.

Daar is ‘n hele nuwe badkamer vir hom in sy kamer ingerig waar hy met gemak kan stort – alles daarvoor is deur maatskappye in die stad geskenk. Verder is daar ook vir hom ‘n houtdek buite sy kamer gebou en spieëls teen twee mure opgehang, wat sy oefeninge by die huis makliker maak. Hy het ook ‘n nuwe bed gekry.

LEES OOK: Marloth se seniors bederf met ete en musiek

“Die eerste maand was maar die hardste,” vertel Wihan. Die gewoond raak aan sy nuwe kamer, met die rolstoel in die huis oor die weg kom en die balans op sy krukke. Hy lag nou as hy vertel hoe groot sy pa, Johan, geskrik het toe hy die eerste keer by die huis sy balans verloor en geval het.

Wihan de Jager in die gimnasium. > Foto: Verskaf

Een van die moeilikste dinge vir sy ma is dat hy homself maar by tye onttrek – en daar is ook maar buie wanneer hy ongeduldig raak of vasgekeer voel.  “Party dae is rêrig moeilik,” sê sy. Wat sy doen en sê kom van ‘n plek van omgee; sy is immers net ‘n ma. By die huis is dit maar ‘n ander saak as daar buite.

LEES OOK: IN FOTO’S: Ekstase en senuwees by Mbombela Stadion tydens Curriebeker-wedstryd

“My pêlle het al vir my gesê: ‘Tjom, as ek jy was…’ en: ‘Jis, Vaatjie, ek het moerse baie respek vir jou. Hoe doen jy dit?’ Wat hulle nie weet nie, is dat ek my frustrasies by die huis uithaal.”  Maar die twee stem saam: Dit word stadig maar seker beter.  “Ek moet baie op hulle skouers leun, en dit is nie vir my lekker nie,” sê Wihan, wat al op ‘n stadium van sy lewe onafhanklik van sy ouers kon lewe.

Wihan de Jager in die gimnasium. > Foto: Verskaf

Alhoewel dit hom ‘n tydjie geneem het, sê hy hy besef net al hoe meer hoe baie sy ouers vir hom ná die ongeluk gedoen het. Hulle én almal wat sy tuiskoms makliker gemaak het.  Vir sy pad vorentoe is daar nog nie definitiewe planne nie, maar vir die verre toekoms is hy vasberade om minstens één ding te bereik: ‘n staptog van Kaapstad na Magadan, Rusland, eindig.

LEES OOK: Voormalige Laevelder met ”n hart groter as sy boarms’ sterf

“Al is dit oor 10 of 20 jaar, dis iets wat ek wil doen.”  Vir die onmiddellike toekoms skrik motorfietse hom, ten spyte van sy ongeluk, glad nie af nie. “Hy was al klaar weer saam met sy pa op ‘n motorfiets,” vertel Willa effe bekommerd.

Oor so ‘n paar weke beplan hulle ‘n uitstappie na eSwatini, waarna Wihan verskriklik uitsien.  Maar daar is nog ‘n nabye doelwit.  “Sodra ek my been kry, is een van die eerste dinge wat ek doen leer dans.”

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button