Local news

Voormalige Malalane-onderwyser sterf weens malaria

Marietjie van Coller, hartsvriendin, vrou, moeder en voorheen 'n onderwyser by Laerskool Malelane, laat met haar afsterwe 'n groot leemte in dié gemeenskap.

My beste maatjie, my steunpilaar, my rots, my sonskyn, die een wat altyd saam met my gelag en gehuil het… die een met wie ek als kon deel!

Dit is hoe Marina van Coller haar ma, Marietjie, se lof besing het nadat sy onlangs onverwags aan malaria oorlede is.

Skaars 12 uur nadat Marietjie (55) op 14 Oktober inderhaas by Mediclinic Nelspruit opgeneem is nadat erge malaria by haar gediagnoseer is, is sy dood.

Marietjie het glo vir ‘n week of wat voor haar dood nie heeltemal gesond gevoel nie, maar het glo nie gedink dat sy iets ernstigs onder lede het nie.

Die Donderdagaand het sy baie siek begin voel en het haar man, Hendrik, Vrydagoggend op aanbeveling van hulle dokter met haar hospitaal toe gejaag.

Later die dag is die familie ingelig dat sy baie ernstig siek is, en haar dogters, Marina en Elmarie, het van Pretoria af Mbombela toe gery. Kort na hulle aankoms by die hospitaal is sy oorlede.

“Dit was een van die grootste gedenkdienste wat nog ooit op ons dorp plaasgevind het. Sy was ontsettend geliefd onder almal en dit was ‘n baie roerende erediens,” sê Zietta van Rensburg, een van die Malalaners wat Marietjie al baie lank ken.

LEES OOK: Oorlede baba MJ se tweede verjaardag by Rob Ferreira Hospitaal gevier

Sy het vir jare lank by Laerskool Malelane skoolgehou en het enkele jare gelede afgetree.

Sy het sedertdien in haar man se apteek, Malelane Pharmacy at SPAR, gewerk.

Haar gunstelingtydverdryf was om te bak en te brou, sê Van Rensburg. “Sy was bekend vir haar beskuit, brood en konfyt. As eerbewys aan haar bekendheid as bakker en kok op die dorp, was daar selfs ‘n brood-en-jêm-tafel by die gedenkdiens,” sê sy.

“Sy was lewensgroot in ons gemeenskap en laat ‘n baie groot leemte in ons almal se harte,” sê Yolande Slabbert, ‘n goeie vriendin en kollega wat saam met haar by die apteek gewerk het.

Marietjie se “hartsvriendin”, Jennifer Prince, ‘n onderwyser by Laerskool Malelane, vertel hoe sy vir Marietjie sowat twee jaar gelede tydens ‘n besoek aan die apteek ontmoet het.

Marietjie van Coller en Jennifer Prince. > Foto: Verskaf

“Met my eerste besoek, staan ek met my medikasie in die hand, en jy agter die toonbank sê: ‘Hallooo!’ en toe, nog voor ek kon teruggroet, ‘O f*k!’ vir die sakke wat val, en toe weer ‘F*k!’ vir nog iets anders, want hoekom dan nou nie?

“Met ‘n gelag stap ek daar uit. ‘n Paar weke later daag jy by die skool op. Wonder ek, is die f*k-vrou van die apteek ‘n onnie ook? Lucky me om toe nou nog jou kollega ook te wees! (Let wel, jy het dié drieletterwoord deel van baie mense se woordeskat gemaak!)

“Ek het tóé al geweet ek het ‘n sonskynhartsmens hier beet.”

Prince sê iets wat haar altyd sal bybly is hoe die kindertjies vroegoggend by die skool op Marietjie afgepyl het vir ‘n drukkie.

“Sy het vir die kinders hande geklap en gecheer ongeag of hulle al die mylpaal bereik het, en dis hoe jy die vermoë het om elkeen geliefd te laat voel – van niemand ‘n iemand te maak. Ek lief jou daarvoor.

LEES OOK: Skole neem met ywer deel aan geskiedenisherdenking in Lydenburg

“Jy het só opgewonde geraak oor ander se geluk, asook hartseer, dat jy sommer in trane uitbars. Jou op-die-man-af-persoonlikheid, sin vir humor en authenticity is my absolute gunsteling! Ek probeer eintlik net te sê: vir jóú, Meraai, gaan ek nie wéér kry nie,” skryf Prince in ‘n ode aan haar vriendin.

“Liefste, lawwe Meraai, ons harte is seer, maar die hemele juig! Die engele sing, daar is nuwe opwinding, jou aansteeklike lag dat die trane spat!

“Ons sal jou altyd onthou, en dit sal voortleef in jou pragtige dogters,” skryf Belinda Potgieter op Facebook.
Elize Gildenhuys, nog ‘n familievriend, sê oor Marietjie: “Liefste Marietjie, jy was altyd so vrolik, vol pret en net ‘n bok vir sports, die lewe was vir jou ‘n lied.”

Marietjie laat haar man, Hendrik, en dogters, Marina, ‘n fotograaf, en Elmarie, ‘n aptekerswesestudent, agter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button