Local newsNews

Twee landbou-organisasies spreek kommer uit oor plaasaanvalle in Mpumalanga

Rolspelers in die landbousektor is van mening dat paraatheidsvlakke op plase in Mpumalanga verskerp moet word, sowel as bekamping teen geweldsmisdade en moorde.

Na die onlangse moord van Johan Nortjé (66) in die Badfontein-distrik buite Lydenburg het twee landbou-organisasies hul kommer oor die skerp toename van plaasaanvalle in die provinsie uitgespreek.

Nortjé is op Sondag 15 Januarie omstreeks 06:30 deur twee verdagtes op die plaas Wilgekraal doodgeskiet. Sy vrou se polse is met draad vasgebind. Sommige plaaswerkers het die bure na die tyd ontbied en sy is bevry.

Een van die verdagtes is op Maandag 16 Januarie in eMalahleni gearresteer met Nortjé se Toyota Hilux GD6, ammunisie en ‘n 9 mm pistool in sy besit.

Lees ook: Hittegolf tref SA

Mpumalanga Landbou, ’n provinsiale afdeling van AgriSA, het ‘n dringende beroep op die provinsiale kommissaris van die SAPD, lt.genl. Semakaleng Manamela, gedoen om die Nasionale Landelike Veiligheidstrategie te implementeer.

“Voorkoming van lewensverlies in die landbousektor is van kardinale belang. Ons produsente, ons plaaswerkers en hulle gesinne hoef nie sagte teikens vir misdadigers te wees nie. Landbouprodusente moet inskakel by hul naaste veiligheidstruktuur, plaas- en buurtwagte. Dit plaas individue se veiligheid onmiddellik op ‘n hoër vlak en dra by tot die plaaslike gemeenskap se stryd teen misdaad. Mpumalanga Landbou se strukture maak ook voorsiening vir deelname van nielandbouprodusente as lede. Dit wil voorkom of die owerheid nie oor die vermoë beskik om misdaad te bekamp nie. Mpumalanga Landbou ondersteun daarom regmatige en deursigtige pogings, deur die privaatsektor, om veiligheid en sekuriteit in ons landelike gebiede te verseker. Dankie aan talle privaat sekuriteitsmaatskappye wat reeds ‘n reusebydrae tot die veiligheid en sekuriteit van die landbousektor lewer,” het Robert Davel, die uitvoerende bestuurder van Mpumalanga Landbou, gesê.

Die Transvaalse Landbou-unie van Suid-Afrika (TLU SA) se streeksbestuurder, Ronnie Schilling, het gesê hulle is geskok oor die onlangse moord op Badfontein.

“Ons is van mening dat boere direk geteiken word. Die landelike veiligheidsplan moet ‘n absolute prioriteit vir die SAPD word. Ons kan nie bekostig om langer sonder ‘n veiligheidsplan voort te gaan nie,” het Schilling gesê.

“Boere se hoofprioriteit moet voedselvoorsiening wees en nie sekuriteit nie. Die regering moet verstaan dat hul stilswye daartoe sal lei dat gemeenskappe geen ander keuse het as om hulself met hul eie veiligheidsplanne te beskerm nie. Die SAPD kan deel vorm van hierdie plan as hulle ‘n verskil kan maak,” het Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder, bevestig.

Volgens Gawie Lötter van TLU SA, toon syfers ‘n beduidende toename in plaasaanvalle- en moorde sedert 1 Januarie vanjaar, en die stilswye van die regering hieroor laat vrae ontstaan. Lötter het gesê 43 lewens is in 2022 weens plaasaanvalle verloor.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button