Bokser se boesemvriend tree in die bres ná sy dood
Die 'Boksburg Bomber', Gerrie Coetzee, word só deur sy vriend en Laevelder, Tinus Strydom, onthou.
Tydens die bitter harde gevegte en swaarkry wat die wêreldbekende bokser, Gerrie Coetzee (67), in sy loopbaan beleef het, was daar altyd een man aan sy sy, Thinus Strydom.
Coetzee is Donderdag 12 Januarie oorlede nadat hy sy stryd teen kanker verloor het.
“Dit was ‘n groot terugslag, nie net vir sy gesin, familie en vriende nie, maar vir die hele bokswêreld en al Gerrie se ondersteuners,” vertel Strydom, ‘n wêreldbekende Suid-Afrikaanse sportpromotor en geliefde Laevelder.
Dié week gaan hyvir sy vriend in die kryt klim om een van die swaarste gevegte in sy lewe aan te pak – om Coetzee se gedenkdiens te reël.

Strydom sê hy het in 1978 vir die eerste keer met sy paaie gekruis. ‘n Vuil en bebloede handdoek wat in Coetzee se hoek tydens die geveg gebruik is, het daartoe gelei dat hulle lewenslange vriende geword het. “Ek het ná die geveg na Gerrie toe gegaan en vir hom gesê hy sal sy hoekhelpers moet verbeter, dan sal hy gevegte begin wen. Hy wou weet hoekom ek so sê, en ek het gesê sy hoekspan kom ongeorganiseerd voor en dat dit ondenkbaar was dat hy tussen rondes met ‘n vuil handdoek afgevee moes word.”
‘n Paar dae later het Coetzee vir Strydom gebel en gevra of hy saam met hom in dieselfde kamp wou wees.
“Hy was een van die nederigste mense wat ek in my lewe geken het. Hy was ‘n opregte, sagmoedige reus,” sê Strydom, en voeg by dat hy absoluut vir sy familie geleef het en hulle privaatheid ten alle koste beskerm het.
“Hy was ongelooflik vrygewig en het, soms tot sy eie finansiële nadeel, gratis opgetree en toesprake gemaak. Hy het nooit geld daarvoor gevra nie. Hy was altyd stil en het nie soos die meeste boksers voor ‘n geveg gespog hoe hy sy teenstander sou vernietig nie. Hy was bedaard, het sag gepraat en het op wat kom gekonsentreer. En as hy deur die toue geklim het, het die regte Gerrie ontpop. Dan het sy vuiste gepraat!”
LEES OOK: Diving unit releases holiday drowning statistics for Mpumalanga
Nadat Coetzee sy handskoene opgehang het, het hy hom heeltemal van die bokswêreld onttrek. Tot een dag toe Strydom se kleinseun, Dillion (21), hom gesê het dat hy graag soos sy oom Gerrie wou boks. “Gerrie het hom in die motorhuis begin afrig, en so is hy nou, stadig maar seker, besig om vir hom ‘n loopbaan in die bokskryt oop te veg,” sê Strydom.
Twee van Strydom se grootste vooruitsigte is om Dillion in die bokskryt saam met Muhammad Ali se kleinseun, Nico Ali Walsh (21), te sien, en om die film oor Coetzee se lewe en loopbaan op die silwerdoek te laat vervaardig. “Tydens die besoek van Muhammad Ali se vrou, dr. Khalilah Ali, by Nkomazi Kruger Lodge, waartydens die rolprent onder meer bespreek is, is die moontlikheid van die geskiedkundige geveg tussen die twee bokslegendes se kleinseuns geopper,” sê Strydom.

Hy vertel dat alles gereed was om met die verfilming te begin, maar weens die Covid-pandemie is dit op ys geplaas. “Ons is op die stadium nou weer gereed om daarmee te begin, onder leiding van die bekwame Koos Roets. Aanvanklik sou ‘n wêreldbekende akteur die rol van Gerrie speel, maar daar is uiteindelik besluit om eerder die dienste van Dricus du Plessis (‘Stillknocks’), ‘n Suid-Afrikaanse skopbokskampioen, in te roep. “Hy reageer meer soos Gerrie, het Gerrie se stem en sy hele houding is die ene Gerrie.” Verfilming gaan waarskynlik aan die einde van Maart begin.
LEES OOK: Bergvlam vier hoof se verjaardag
Een van die wêreldrekords wat vir jare agter Coetzee se naam gestaan het, en waarvan weinig weet, is dat die geveg tussen Coetzee en John Tate in 1997 op Loftus Versveld ‘n rekordskare van 68 000 mense gelok het. “Dit was tot verlede jaar ‘n rekord vir die meeste besoekers ooit by ‘n boksgeveg,” vertel Strydom.

‘n Gedenkdiens vir Coetzee word Vrydag, 20 Januarie in Kaapstad gehou. Hy gaan veras word.
Gerrie laat sy vrou, Rina, en kinders, Lana, Gerald en Tana, agter.
