Hoërskool Lydenburg spog met bykans nuwe seunskoshuis vir 101-jarige skool
De Souza Seunskoshuis op Lydenburg bykans spiksplinternuut.
In Oktober verlede jaar het ’n indrukwekkende oormaakprojek by die De Souza Seunskoshuis van Hoërskool Lydenburg begin. Die projek is deur die beheerliggaam moontlik gemaak en ’n gedeelte van die skoolfonds is hiervoor gebruik. Daar is besluit om eers Noordhuis die fokuspunt te maak.
Sodra dié huis sy kapasiteit koshuisgangers bereik het, sal Ooshuis aangepak word. Op 10 Januarie kon Michael van der Merwe, die skoolhoof, met ’n geselligheid al die rolspelers wat die projek moontlik gemaak het, bedank.
Dit het die koshuispersoneel, kontrakteurs en die beheerliggaam ingesluit. By die geleentheid was alumni van De Souza-koshuis die eregaste. “Die getal inwoners in die seunskoshuis het die afgelope twee jaar meer as verdriedubbel. Met die begin van die skooljaar was Noordhuis tot oorlopens toe vol, so ons het reeds Ooshuis in ons visier,” het Van der Merwe gesê.
Hy het veral die alumni van die Ohrigstadgemeenskap vir die ondersteuning en bywoning van die geleentheid bedank. Geen steen is onaangeroer gelaat met die opgradering nie. Die verbeteringe sluit in die vooraansig van die koshuis, nuwe veiligheidshekke, plaveisel, palissades, afdakke vir die personeel se voertuie en die seunsbadkamers het ’n totale gedaanteverwisseling ondergaan. Boonop is al die kamers uitgeverf en die klerekaste oorgedoen, en elke kamer het nuwe deure gekry.
Dié genoemde verbeterings is net ’n druppel in die emmer. Hoërskool Lydenburg vier op 27 Julie sy 102de verjaardag. Die groot eeufeesvieringe het in Oktober 2021 plaasgevind. Die skool is op 27 Julie 1921 gestig toe van Lydenburg en die omgewing besef het die dorp benodig dringend ’n hoërskool en koshuis. Van der Merwe het gesê daar word nog baie vernuwing by die skool beplan en ’n paar groot projekte is vanjaar in die pyplyn.
.












