Die lewe, die dood, en alles tussenin in episode 4 van Laeveldbewoners
Die Laeveld Krematorium se Magda Arnold en Jacques Lombard en Claud Kruger is in hierdie episode van Laeveldbewoners te sien.
Die dood gee waarde aan om te lééf, en ‘n mens moet by jou waardes staan.
Dis ‘n kort samevatting van Laeveldbewoners se vierde episode.
Hier maak jy kennis eers met Magda Arnold en dan met Jacques Lombard en Claud Kruger.
Om ‘n familie te help om finaal afskeid van ‘n geliefde te neem is die laaste ding wat jy vir iemand kan doen, sê Arnold.
LEES OOK: Reën keer nie Sabie Tube Race
Sy is die eienaar van Lowveld Crematorium and Funeral Services – die eerste Laeveldse krematorium, wat in 1996 deur haar man, Martin, gestig is. Hy is in 2008 oorlede.

“Ons voel hom nog baie. Sy nabyheid is saam met ons. Alhoewel hierdie tipe werk emosioneel uitputtend kan wees, kom dit ook maar saam met ‘n tikkie donker humor. Arnold spot en sê kliënte sal soms nie ‘n skrywe afteken met ‘yours faithfully’ nie, maar eerder ‘yours eventually’.”
Gegewe die omgewing waarin sy werk, probeer sy absoluut voluit leef. “Jy gaan net een keer dood, maar jy lewe elke dag.”
Ná die krematorium en sy mense ontmoet jy ‘n huishouding vol lewe, en karaktervas tot die laaste toe.
LEES OOK: Nelspruit Eisteddfod datums aangekondig
Lombard vertel van sy en Kruger se verhouding, hoe hulle en hul gesin in hul liefde vir mekaar deur die uitdagings in die Laeveld-gemeenskap volhard het, en hoe hulle eintlik ‘n doodnormale gesin is wat soos enige ander funksioneer.
“Omdat ons dink daar is steeds onkunde oor gaywees en ‘n gesin wees, of gaywees en in besigheid wees, probeer ons mense blootstel aan wie ons is.” En dit gebeur deur enigiets van ‘n kinderpartytjie vir hul dogter tot sportdae by die skool – soos enige ander gesin.
Beide Lombard en Kruger sê hulle voel bevoorreg om deel van Laeveldbewoners te kon wees, en was dankbaar teenoor die program se span.
“Dis lekker om die kans gegun te word om op so ‘n ontspanne manier ons land en sy mense te leer ken, en dan seker meer spesifiek almal wat in die Laeveld is.
“Ek en Claud, en natuurlik ons kinders, wil sommer net almal wat die program saam met ons geniet het, wat ons aanvaar en vir ons lief is, bedank. Dis altyd belangrik om te onthou dat almal van ons ‘n storie het. Ons moet net altyd tyd maak, dink ek, om te luister, en dalk kan ons mekaar dan almal beter verstaan.”
