Verstommende prestasies vir Hoërskool Nelspruit en Rob Ferreira in Mbombela se hitte
Nie eers die versengende hitte kon nie die altete stop om hulle beste voetjie voor te sit tydens hierdie vriendskaplike atletiekbyeenkoms in Mbombela nie.
Hoërskool Nelspruit (NHS) bied jaarliks ‘n vriendskaplike atletiekbyeenkoms aan waaraan die ou teenstanders op die atletiekbaan en -veld, Afrikaans Hoër Seuns (Affies) en Hoër Meisies (AHM) van Pretoria, asook die buurskool, Rob Ferreira, gereeld kom deelneem. Hierdie geleentheid het vanjaar op Saterdag, 28 Januarie met die Laeveld-somerhitte op sy beste, plaasgevind. Nog twee Hoëveld-skole, Middelburg en Ermelo, het verdere luister aan die dag kom verleen.
LEES OOK: Pumakiti-vasvra by Mbombela Stadion ‘n bate vir die Maroela Makiti
Affies se bekende atletiekkrag het oorwegend die uitslae oorheers, maar dit was tog van die plaaslike atlete wat met die meeste topvertonings vorendag gekom het.
NHS se Ashley Erasmus (d. 19) het haar skitterafstande in skyfwerp en gewigstoot by vanjaar se interhuis, met nog twee uitstekende vertonings opgevolg. Sy wen die gewigstoot met ‘n puik poging van 15,81 m, en voeg ook die goue medalje in skyfwerp (51,03 m) by haar reeds indrukwekkende versameling. Vir beide items, het sy weer die volle 1 000 punte op die ASA-tabel verdien – die enigste atleet van die dag wat enigsins na aan sulke hoë punte kon kom.
LEES OOK: Van Wettens Nite Race attracts 500 runners to Mbombela
Indien sy hierdie standaard kan handhaaf of verbeter, is die goue tweekuns by die nasionale skole- en ASA-byeenkomste, gewis binne haar bereik.
Nog ‘n Nellie wat met drie eerste plekke die oog gevang het, is Zoë Cilliers. Sy het in die afdeling vir dogters 15, die 100 m (12.78), 200 m (26.34 sek) en hoogspring (1,50 m) ingepalm.
Wat die seuns betref, verdien NHS se Menzi Shiba (seuns 15) beslis ook spesiale vermelding. Ook hy slaag daarin om in drie items goud te verower. Menzi wen die 300 m-hekkies (41.61), hoogspring (1,70 m) en verspring (6,18 m).

Hoërskool Rob Ferreira van Witrivier het ook met spogprestasies van die baan en veld afgestap, waarvan dié van hul seuns onder 19 4 x 100 m aflosspan seker die mees noemenswaardige is.
Die vier seuns het die strafste kompetisie in hulle wedloop uitgestof en die gedugte teenstanders, Affies, met ‘n wentyd van 42,17 sek geklop. Hulle verbeter ook Affies se rekord vir die byeenkoms wat reeds vanaf 2012 staan.

