‘n Vlieënier en ‘n juffrou met ‘n passie vir lees op Laeveldbewoners
Die volgende paar Laevelders op kykNET se nuwe reeks oor dié streek se inwoners, kom van Witrivier en KaNyamazane.
Om brande vanuit ‘n helikopter te bestry, sit nie sommer in enige man se broek nie. En om ‘n passie vir lees by ‘n kind aan te wakker, nog minder!
Dit is die onderskeidelike take wat Charles Burger en Christine Simelane in hul alledaagse lewens aanpak. Op episode 5 van Laeveldbewoners kry die kyker met dié twee te doene.
Die beginstadium van die episode lyk kompleet soos ‘n greep uit Top Gun. Burger het as seun reeds ‘n liefde vir lugvaart gehad, maar sy loopbaan as vlieënier het eers werklik begin toe hy by die lugmag aangesluit het. Tans werk hy vir Leading Edge Helicopters in Mbombela. Hy verduidelik hoe die proses van brandbestryding werk en sê hulle kan binne die kwessie van ‘n uur 40 000 liter water oor ‘n vuur uitgooi.

Hulle span is van Mei tot November in die Laeveld, wanneer brande hier meer algemeen is, en weer van Desember tot April in die Kaap. Die Laeveld bly egter maar sy gunsteling van die twee.
LEES OOK: Die lewe, die dood, en alles tussenin in episode 4 van Laeveldbewoners
Hy staan verwonderd oor hoe alles in sy lewe verloop het om hom hier te kry. Hy staan aan die einde van sy loopbaan en beskou dit as ‘n voorreg om te kan doen wat hy doen. “Jy help mense,” sê hy. Dit is die goue draad wat deur diegene in sy beroep en ander nooddienste vloei.

Laerskooljuffrou Christine Simelane van KaNyamazane het nou weer haar voete plat op die aarde, maar met haar hulp vlieg kinders in hul verbeelding rond. En hoe dan anders as deur ‘n storieboek?

Sy kry lekker soos sy vertel hoe sy altyd die opwindendste boeke kies waaruit sy vir die leerders voorlees. Wanneer sy op ‘n punt ophou lees en hulle smeek vir nog, word hulle aangesê om biblioteek toe te gaan en sélf uit te vind hoe die storie eindig.
LEES OOK: Pumakiti-vasvra by Mbombela Stadion ‘n bate vir die Maroela Makiti
Simelane is die stigter en direkteur van Raise a Reader, ‘n organisasie sonder winsoogmerk wat in 2013 gestig is met die doel om geletterdheid onder leerders te bevorder.
Lees, sê sy, is ‘n baie belangrike deel van kinders se lewens. Dit help hulle ontwikkel en leer hulle baie oor kommunikasie.

Sy is besig om ‘n biblioteek in haar gemeenskap te stig; befondsing is natuurlik een van die grootste uitdagings. Daar is egter reeds ‘n naam vir die biblioteek. Simelane wil dit na ‘n hoërskoolleerder, Nomthandazo Mbatha, wat in 2019 oorlede is, vernoem. Sy het by ‘n vriendin se huis vir haar eksamen gaan leer, maar het verdwyn, en haar lyk is twee dae later gevind.
Dit is vir haar simbolies van die feit dat almal moet saamwerk en weet hoe belangrik dit is om vir kinders ‘n veilige plek te gee waar hulle kan leer.
‘n Oudleerder van Simelane, Nonsindiso Thobela, is vandag nog dankbaar vir haar juffrou en sê almal moet haar passie kan ervaar.
