IN FOTO’S: Sabie Tube Race 2023 – wát ‘n fees!
Was jy by vanjaar se Sabie Tube Race? Kyk of jy jouself dalk in een van Laevelder se foto's sien.

Daar was modder, daar was reën, en met die rivier en sy hindernisse saam, vir seker ‘n skrapie of blou kol op ‘n been hier en daar.
Maar alles in ag genome is een ding seker: Die Sabie Tube Race 2023 was ‘n absolute fees in elke sin van die woord.
Met ongeveer 3 000 kaartjies verkoop, was die feesterrein ‘n heerlike mengelmoes van kampeerders en dagbesoekers – die een se voete vuiler en die ander se neon-tema-kleredrag helderder.

Aan vermaak was daar natuurlik geen tekort nie. Die gehoor het aan die kunstenaars se lippe gehang en die geharde aanhangers kon jy maklik uitken – Jack Parow is selfs met ‘n stukkie onderklere op die verhoog gegooi. Dié is vir die res van die vertoning aan sy mikrofoonstaander vasgemaak.
LEES OOK: ‘n Vlieënier en ‘n juffrou met ‘n passie vir lees op Laeveldbewoners


Vir die hoeveelheid geesdrif wat daar Vrydagaand, 3 Februarie, was, was daar Saterdag dubbel soveel op die rivier.

Die kinders en ouers en vriende en vreemdelinge het elkeen hul plek gehad – en vir diegene wat gedurende die rit dors geword het, was daar gelukkig mededeelsame siele. Die vrygewigheid het selfs so ver as spare tubes in noodgevalle gestrek!


Die Saterdagaand se vertonings was net soveel van ‘n bederf as die eerste sessie van Vrydag. Die skare het saamgesing, en kon sekerlik tot in die dorp gehoor word.

Die naweek was natuurlik nie sonder sy paniekbevange oomblikke nie, maar te danke aan al die daargestelde protokolle is dit vinnig opgeklaar.
LEES OOK: Woman airlifted from Sabie Tube Race, discharged same day
Die hooforganiseerder, Walter Serfontein, sê daar was geen getwis nie. “Ons wil regtig hê die fees moet ‘n veilige plek vir almal wees.” Hy het al die borge, sonder wie die naweek nie moontlik sou wees nie, bedank.

As jy dit vanjaar gemis het, oefen solank jou modderpadstappie in ‘n lekker groot pothole en jou tube-balans in die swembad – hierdie is nie iets wat jy weer wil misloop nie.







































































































