Local newsLocal sport

Hoërskole gerat vir BUCO Laeveld Interhoër op Lydenburg dié Saterdag

Die interhoër is elke jaar 'n skouspelagtige affêre, van die dirigente en skare regdeur tot die atlete se spogprestasies. Saterdag beloof om geen uitsondering te wees nie.

Laevelders kan hul maar gereedmaak vir ‘n gesonde dosis kompetisie by die 74ste BUCO Laeveld Interhoër wat Saterdag, 25 Februarie, by Hoërskool Lydenburg gaan plaasvind.

Hoërskool Nelspruit (NHS) is met ‘n missie op pad Lydenburg toe, met hulle oë sekuur op die 58ste agtereenvolgende titel by hierdie byeenkoms. NHS se atletiekspan het op 17 en 18 Februarie goeie voorbereiding vir vanjaar se interhoër gemaak toe hulle by twee groot byeenkomste in Pretoria kragte met van die land se bestes gemeet het, een by Hoërskool Zwartkop en ‘n ander die gesogte Curro Podium-byeenkoms.

LEES OOK: Rukwinde veroorsaak groot stormskade op Lydenburg

Veral die verspring- en worpe-atlete het ‘n suksesvolle dag beleef. Jordan Pretorius (s. 16: 6,59 m) en Marko Matthee (s. 17: 6,64 m) het beide hul items gewen, en in die proses persoonlike beste afstande behaal. Tye Habib (s. 15) se 6,14 m het ook indruk gemaak, maar hy het eintlik met sy vertoning in driesprong naam gemaak. Hy neem deel aan die driesprong vir seuns 19, en verbaas vriend en vyand deur eerste met ‘n wenafstand van 12,34 m te eindig.

‘n Naam waarvoor die skare ook hul ore kan spits, is Ashley Erasmus. Verlede naweek het sy oudergewoonte die gewigstoot (16,54 m) en skyfwerp (50,89 m) gewen. Sy is reeds ‘n viermalige rekordhouer by die interhoër.

Die bestendige Zané Nel (o. 15) het ook weer haar gebruiklike goeie bydrae gelewer. Hierdie staatmaker blink weer uit in gewigstoot (12,77 m – 874) en skyfwerp (35,30 m – 856) en is sterk op pad na die goue tweekuns op Lydenburg.

Die 4×100 m aflosspan van Rob Ferreira wat die Affies uitoorlê het. Tlotlo Ratshwene, Gabriel Kunene, Junior Mbedzi en Lebogang Machete.

Rob Ferreira se Caitlin Dehrman (o. 19) beoog om oor die hoogspringlat te seil by vanjaar se interhoër, en haar naam as SA brons medaljewenner gestand te doen. Vroeër vanjaar by NHS se vriendskaplike byeenkoms het Rob se o. 19-seunsaflosspan van vier hulself as ware teenstanders bewys. Hier het hulle hul strafste kompetisie in die wedloop uitgestof en die gedugte teenstanders, Affies, met ‘n wentyd van 42,17 sek. geklop. Met dié tyd het hulle ook Affies se rekord vir die byeenkoms, wat reeds sedert 2012 staan, verbeter. Die res van Rob se seunsaflosspanne mik ook almal vir ‘n eerste plek op die podium, soos wat hulle ook in 2019 kon vermag het.

LEES OOK: IN FOTO’S: BUCO Interlaer 2023

Lowveld High het ook ‘n paar atlete om dop te hou, onder andere in die sandpit. Yulin Chabane, Sinethemba Mlambo en Samu Mkabela sal vir die dogters o. 19 die pit aandurf. Adolf Morgan het vanjaar al 1,8 m in die seuns o. 19-hoogspring gespring, en hoop om ‘n persoonlike beste by vanjaar se interhoër op te stel.

Themba Nyakane gaan vir Hoërskool Barberton in die seuns o. 19-driesprong poog om te skitter, en Thandiwe Manyisa gaan in die 100 m- en 100 m-hekkies vir dogters o. 19 meeding. Shaun Msithini van Barberton kan gerus dopgehou word wanneer hy aan die middel- en langafstande vir seuns o. 16 deelneem. Sy items hier sluit die 800 m en 1 500 m in. Wynand Ekkerd gaan sy slag in die gewigstoot, seuns o. 15 wys.

LEES OOK: The Wildside Enduro thrills and spills on challenging course in Badplaas

Penryn is slaggereed om hierdie jaar sy beste op die baan en veld te gee om sy persentasietrofee, wat hy verlede jaar verower het, te verdedig. “Dit is ‘n geweldige eer vir Penryn om deel van 2023 se interhoër te wees. Ons is gereed om die persentasietrofee te verdedig en is só trots op en baie dankbaar vir ons atlete se suksesse die afgelope paar jaar. Dankie aan Hoërskool Lydenburg vir die aanbied van die geleentheid, en wees gerus, wetende dat Penryn, een en almal, Saterdag daar sal wees!” het Albert Pienaar, die skoolhoof, gesê.

Milde Cronje, Hoërskool Bergvlam.

Hoërskool Bergvlam se atlete is reg vir die BUCO Laeveld Interhoër 2023! Die toeskouers kan gerus op die uitkyk bly vir Janel van Wyk by die gewigstoot, Blessing Dlamini in die 400 m, en Jan van Wyngaardt, Cian Maritz, Devine Mathebula, Amu Nyati en Milde Cronje in die langafstande.

Mpho Montankisi, Hoërskool Lydenburg.
Larischa Kelly van Hoërskool Lydenburg

Die gasheerskool spog veral met hul hekkie-atlete. Ntiyiso Nkyani (seuns o. 19) moet fyn dopgehou word. Hy het verlede jaar sesde op die wêreldranglys met ‘n tyd van 53,30 sek. op sy 400 m- hekkies, seuns o. 17, gelê. Die huidige interhoërrekord vir dié item vir seuns o. 19 is 54,15 sek. Nkyani neem ook aan die 110 m-hekkies en 400 m-middelafstand deel.

Mpho Motankisi (seuns o.17) jaag ook goud en ‘n rekord vir Lydenburg in die 400 m, 400 m-hekkies en 110 m-hekkies na. Mthokozisi Ndlovu (seuns o. 16) is nog ‘n atleet wat vir goud op die baan mik, ook in die 400 m-afstand en 400 m- en 110 m-hekkies.

LEES OOK: BUCO Interprimary 2023 cut short due to weather constraints

Wat naellope betref gaan Thapelo Maloi (seuns o. 16) poog om stof in sy mededingers se oë te skop as hy op sy merke in beide die 200 m en 100 m sak.

Nóg hekkie-atlete wat hulle staal by die hekkies gaan wys is Sumerie Lourens (dogters o. 16) en Larischa Kelly (dogters o. 19). Hulle neem onderskeidelik aan die 400 m- en 100 m-hekkies deel. Larischa gaan Saterdag ‘n rekord van 15,9 sek. in die kort hekkies najaag. Lourens neem ook aan die 200 m en 100 m-naellope deel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button