Goue interhoërdag op Lydenburg
Met 'n doelgerigte intensiteit wat almal verras het, het Hoërskool Lydenburg (LHS) die BUCO Laeveld Interhoër met mening aangepak.
Die atlete van hoërskole Nelspruit, Lydenburg, Rob Ferreira, Bergvlam, Barberton, Penryn College en Lowveld High het Saterdag aan die interhoër op Lydenburg deelgeneem.
Die tradisionele opposisie tussen die hoërskole Nelspruit en Rob Ferreira moes vanjaar met ‘n derde deelnemer rekening hou, en dit was Lydenburg.
LHS het hulself as gashere oortref en nie ‘n grassie was uit sy plek met die aanbreek van die groot dag nie.
Lydenburg se tema was “superhelde”. ‘n Tekenprent is spesiaal vir die interhoër ontwerp en op die beamptes en dirigente se klere gedruk.
Lees ook: Inter High 2023
Dis veral LHS se dogtersatlete wat die Nellies gedwing het om na ‘n hoër rat oor te skakel, en die gevoel van ‘n moontlike opskudding op die telbord het vir groot opwinding gesorg.
Ntiyiso Nkayane van LHS is die senior victor ludorum, beste baanatleet, en beste 400 m-hekkiesatleet met ‘n rekordtyd van 53,05 sek. Hy het die 400 m in 49,79 sek. voltooi.
Hanco Barnard is as die beste dirigent van die dag aangewys, en het die Lekkerbekbeker ontvang.
Die Grootbekkebeker vir die beste dirigente in geheel is aan Hoërskool Nelspruit oorhandig.
Hoërskool Nelspruit het die Bring It-beker vir die beste dirigente se opkoms en kreet gewen, en die Move It-beker vir die beste voorbereide liedjie. Vir die beste onvoorbereide liedjie het Hoërskool Lydenburg die Wing It-beker gewen. Die Lerata-beker is aan Hoërskool Barberton oorhandig.
Die skool met die beste deurlopende dissipline is aan Hoërskool Bergvlam oorhandig, en die skool wat die meeste kilometers afgelê het om die interhoër by te woon, is Barberton.









































