Local news

Drie skole teen Stad van Mbombela in kragrekeninggeskil

Hoërskool en Laerskool Nelspruit en Lowveld High se elektrisiteit is op 3 Maart deur die stadsraad afgesny. Dié skole is al sedert 2012 met die stadsraad in 'n dispuut oor hulle kragrekenings betrokke.

Die Stad van Mbombela het op 7 Maart bloedneus in die hof gekry toe hy twee skole probeer dwing het om nagenoeg R8,8 miljoen vir sogenaamde ‘agterstallige’ elektrisiteitsrekenings te betaal deur die skole se krag af te sny.

Drie skole, Hoërskool en Laerskool Nelspruit en Lowveld High School, is al sedert 2012 in ‘n dispuut met die stadsraad hieroor betrokke.

Volgens Vernus Kruger van Kruger en Vennote, die skole se regsverteenwoordiger, was hulle van meet af aan nie tevrede met die rekenings wat hulle destyds ontvang het nie.

LEES OOK: Laerskool Nelspruit spog met 10 atlete wat kwalifiseer vir vanjaar se SA’s

“Ons het toe al ‘n dispuut verklaar omdat ons van mening is die raad het die rekening foutiewelik bereken. Nieteenstaande die bestaande dispuut en ‘n bestaande hofbevel om hulle te verbied om dit te doen, het die stadsraad tog die oggend van 3 Maart die skole se krag afgesny.”

Hoërskool en Laerskool Nelspruit het vroeg daardie aand ‘n dringende hofbevel bekom dat die afgesnyde krag weer aangelê moet word. Die bevel is op 7 Maart ‘n permanente een gemaak. Die stadsraad is nou verbied om enigsins die krag weer af te skakel alvorens ‘n hofsaak wat reeds hieroor aan die gang is, afgehandel word.

Op 27 Februarie het die munisipaliteit briewe aan Hoërskool en Laerskool Nelspruit gestuur waarin hulle gemaan word om binne 48 uur die onderskeie rekenings van sowat R7,1 miljoen en R1,5 miljoen te betaal. Indien dit nie gebeur nie, sou die krag na beide skole afgeskakel word. Omstreeks 11:30 Vrydagoggend, 3 Maart, is dit inderdaad afgeskakel. Hoekom dieselfde waarskuwing nie aan Lowveld High School gestuur is nie, is onduidelik.

LEES OOK: IN FOTO’S: Mbombela se Rubicon-straatbraai uitspattig in wit en rooi

“Ons het onmiddellik vir ‘n hofbevel gevra om die kragtoevoer te herstel en die stadsraad te verbied om dit weer af te sny,” sê Kruger. Vroeg daardie selfde Vrydagaand is die interdik toegestaan, maar die krag is eers Saterdag omstreeks 10:00 aangeskakel.

Die regter het daardie Vrydagaand ook beslis dat die saak van ‘n dringende aard was en dat die munisipaliteit teen Dinsdag, 7 Maart redes moet aanvoer hoekom die interdik nie permanent gemaak moet word nie. Die stadsraad het nie die aansoek vir die interdik teengestaan nie, en niemand het die hof daardie Dinsdag namens die stadsraad bygewoon nie.

Die skole het beswaar teen die rekenings aangeteken en het ‘n dispuut verklaar. Hulle het ook in 2012 die hooggeregshof in Pretoria genader met ‘n aansoek om die stadsraad te verbied om enige skuldinvorderings- en kredietbeheerkontrolestappe in te stel vir die betrokke bedrae. Die aansoek was suksesvol en die hof het die stadsraad verbied om die skole se krag af te sny.

LEES OOK: Tuindag vir Huis Betlehem goed ondersteun

Die stadsraad het die skole egter in 2016 gedagvaar vir die beweerde agterstallige bedrae. Op daardie stadium het die skole aangevoer dat die rekenings reeds verjaar het en dat die eis afgewys moet word. Die stadsraad het die eise teen die skole enkele dae voor die verhoordatum teruggetrek en betaling van die skole se koste aangebied.

Die raad het toe later weer in 2022 ‘n nuwe eis in die hooggeregshof teen die skole ingestel vir die skuld wat deur die skole betwis word. Hierdie eise word ook verdedig en die skole voer steeds aan dat die eise verjaar het en nie afdwingbaar is nie. Hierdie saak is steeds hangend en het nog nie tot verhoor gevorder nie.

Joseph Ngala, woordvoerder van die raad, sê hy het die saak na die regsafdeling verwys om Laevelder se vrae te beantwoord.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button