Dodelikste slang in Afrika kruip toe agter herpetoloog weg
Toename van swartmambas in Lydenburg, derde aangemelde voorval in twee weke.
Neels Bothma, ‘n bekende herpetoloog, se liefde en respek vir swartmambas (Dendroaspis polylepis) is alom bekend.
Toe hy ‘n 2.4 m-swartmamba, ‘n halfuur nadat hy begin soek het, in die area reg agter hom opspoor, was selfs hy verlig daaroor.
Sy toewyding en wêreldklaskennis van dié spesies gee hom ‘n voorsprong met die hantering van swartmambas. Maar in dieselfde asem beskryf hy hulle as die dodelikste slange in Afrika.
Dié slang het die huiseienaars by die Sterkspruitplotte buite Lydenburg op 9 Maart verras. Hulle het hom dopgehou toe hy by ‘n skuur inseil, waar motors en motorfietse gestoor word. Hulle het dadelik Bothma om hulp ontbied.
Lees ook: Laerskool Barberton gaan sy 120ste met oorgawe vier
“Die huiseienaar het ‘n beweging in die erf gesien en die mamba dopgehou toe dit daar inseil. Ek en Meisiekind (Melany Jordaan) het die skuur versigtig deursoek en is bly ons kon die mamba red,” het Bothma gesê.
Die slang is dieselfde dag in ‘n veilig omgewing ver buite die dorp vrygelaat.
Bothma sê dis kommerwekkend dat hierdie slange so naby aan die dorp beweeg. Hulle is veronderstel om in die veld te wees.
“Dis altyd ‘n raaiskoot oor hoekom hierdie slange in die dorp is, maar ons noem hulle die rylopers. Dis amper winter en hulle beweeg nader aan skuilings. Dis moontlik dat hulle in Steelpoort en Burgersfort by voertuie inseil, waar dit lekker warm is, en dan ‘n rygeleentheid tot in die dorp kry. Swartmambas is nie algemeen in Lydenburg nie. As iemand gebyt word, is dit ‘n groot probleem. Daar is ‘n tekort aan teengif in die land. Ons moet mense oplei wat onkundig is om nie alles te wil doodmaak nie.,” het Bothma gesê.

Hierdie spesies slang se gif is neurotoksies en stop die pasiënt se asemhaling. Die hoeveelheid giftande wat die vel penetreer, speel ook ‘n rol in hoe ernstig die byt is en hoeveel tyd die pasiënt het om oorlewing te verseker.
Bothma het gesê die swartmamba word gereeld met ‘n wipneuskobra, ook ‘n snoetneuskobra (Naja annulifera) verwar. Hierdie slange, volgens sy ondervinding, is dié wat gereeld honde byt. Selfs die kobras is nie so dodelik soos die swartmambas nie.
Die beste raad wanneer ‘n slang gewaar word, is om die area van ‘n veilige afstand dop te hou, sodat die slangvanger ‘n goeie idee kan kry waar om daarna te begin soek.
Hou Bothma se nommer byderhand vir noodgevalle: 082 730 3047.

