Spoorloos-span swoeg 11 dae om die Oranjerivier te tem
Drie Laeveldse pa's en hul seuns het vir 11 dae die uitdagings op dié rivier trotseer en mooi landskappe by hulle sien verbygly, alles vir 'n groter doel.

Drie Laeveldse pa-en-seunspanne het vanaf 11 Maart tot vandag, 22 Maart, met twee opblaasbootjies op die Oranjerivier gevaar, al die pad van die Lesotho-grens tot en met die rivier se monding by Oranjemund in Namibië en Alexanderbaai in die Noord-Kaap.
Kobus en Francois Jacobs, Guillaume Nel sr. en jr. en Abrie en Wynand Visser het besluit om hierdie ekspedisie saam aan te pak om bewusmaking rondom geestesgesondheid en die gepaardgaande implikasies daarvan te skep.
LEES OOK: Spoorloos-span lê op dag ses en sewe 230 km op Oranjerivier af
Die Spoorloos-span is al sedert 12 Maart op die rivier. Op die agtste dag het hulle by Raap-en-skraap begin en tot by Goodhouse gevorder. Hulle het egter nie die hele roete van die dag 7-trajek op die rivier meegemaak nie, en moes hul bote uit die water haal as gevolg van keerwalle en rivierversnellings.
Op dag 9 het die span ons buurland, Namibië, amptelik begroet ná 950 km op die water. Dit het egter nie so goed vir die Spoorloos-span afgeloop nie, toe die sleepwaentjie agteraan die bystandsvoertuig sy as gebreek het. “Gelukkig het die trailer twee asse!” het Francois gesê.

Hulle het nóg ‘n bloutjie geloop met die rivierversnellings wat steeds sterk was, wat veroorsaak het dat een van die bootjies ‘n gaatjie in gekry het. Gelukkig kon hulle vinnig-vinnig plan maak en het hulle dit opgepatch.
Die manne van die Spoorloos-span het hul negende aand aan die Namibiese kant langs die rivier by Ausenkehr deurgebring.
LEES OOK: Skryf ’n vars gedig vir Innibos en laat dit in ’n kunswerk omskep
Die einde was in sig op dag 10 van hulle #HaalAsem-reis, maar ‘n moegheid het oor die spanne gesak en die verlange huis toe het ingeskop, dus het hulle maar besluit om net voor hulle finale bestemming te oornag. Die stoppie was nie deel van die plan nie, maar die spanne het besluit om eerder te rus sodat hulle vars kon wees vir die laaste 30 km van hul reis tot by die see.
Vanoggend, 22 Maart, het die span met hul bootjies in die riviermonding by Oranjemund ingevaar. “Done and dusted,” het Francois gesê.
‘n Volle 1 800 km op die Oranjerivier, 11 dae, en hulle het dit gemaak! Welgedaan, Spoorloos!
