Local news

Motorfietsongeluk in Longtompas kos man sy linkervoet

'n Motorfietsryer het aan die begin van April 'n ernstige ongeluk in die Longtompas gehad. Hy is steeds in die hospitaal.

‘n Man is tans in Pretoria in die hospitaal nadat hy tydens ‘n ongeluk in die Longtompas van die pad af oor die veiligheidsrelings byna 50 m na onder geval het.

Hennie Maré (65), ‘n inwoner van die Soli Deo Gloria Sorgsentrum in Lydenburg sedert einde verlede jaar, het verskeie beserings opgedoen toe hy op 2 April beheer oor sy motorfiets in die pas verloor het. Sy linkervoet is reeds geamputeer en hy het ook beserings aan sy linkerarm en -skouer opgedoen.

‘n Sarza-lid en paramedikus kry Maré gereed vir die ambulans. > Foto: Facebook

Search and Rescue South Africa (Sarza) Lowveld is na die toneel ontbied nadat nooddienste, insluitende ‘n helikopter, reeds hul pad na Maré gevind het.

LEES OOK: Tweejarige van Barberton oorleef te danke aan laaste voorraad teengif

Sarza Lowveld se voorsitter, Andrew Geldenhuys, sê van die oomblik toe hulle daar aangekom het, het dit ongeveer twee uur geneem om Maré weer tot by die pad te kry. Sy val was byna vertikaal, sê Geldenhuys.

Manie Ferreira van Sarza maak gereed om vir Maré te gaan haal. > Foto: Sarza Lowveld

“Ons sien gereeld sulke tipe voorvalle in die passe. Ten minste drie, vier of vyf per jaar.”

Hoewel die weerstoestande gepas was vir die helikopter toe dit geland het, het dit verander in die twee uur wat dit geneem het om Maré na veiligheid te bring. Weens die mistige omstandighede is hy per ambulans hospitaal toe geneem.

Past. Gerda Venter van Soli Deo Gloria sê Maré is steeds in ‘n baie ernstige toestand. “Dit gaan nie baie goed nie. Hulle hou hom onder hewige sedasie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button