Local news

Musiekteater uit die boonste rakke by Innibos

Maak jou gereed vir twee duo's wat die grense van musiek en poësie by vanjaar se Innibos gaan verskuif.

Verskeie Innibos-musiekteaterproduksies gaan vanjaar fyn beplanning van musiekliefhebbers vereis – beplan jou draaie mooi, want jy wil nie hierdie opvoerings misloop nie.

Grenslose bewondering is inderdaad wat ‘n mens beleef wanneer twee musieklegendes soos André Schwartz en Coenie de Villiers kragte in die musiekteaterproduksie Grensloos saamsnoer.

Dit is die eerste produksie waarin dié talentvolle musikante saam optree, en die vroeër vertonings in Kaapstad en Johannesburg was uitverkoop.

Schwartz, bekend as sanger van internasionale formaat, wys in dié opvoering dat hy ook ‘n koning van die klawers is. De Villiers betower soos altyd met sy virtuositeit. Saam is hulle optrede sonder grense van taal, ouderdom of repertoire, en weerspieël dit optimisme en veerkragtigheid.

Poësie en sielvolle musiek is die ideale pasmaats by ‘n Clemengold Gin-proe, veral wanneer die woordkunstenaars Jak de Priester en die bekroonde digter Bibi Slippers is.

LEES OOK: Tweejarige van Barberton oorleef te danke aan laaste voorraad teengif

De Priester, De Slippers en De Gin is ‘n keurige produksie met lekker ekstra oemf.

Slippers se voorlesings is uit haar opspraakwekkende debuutbundel Fotostaatmasjien, sowel as nuwe gedigte vir die te wagte tweede bundel.

De Priester is, buiten ‘n geliefde sanger van formaat, ook ‘n storieverteller wat weet hoe om ‘n gehoor in die palm van sy hand te hou.

Tussendeur word daar lekker geproe aan Clemengold Gin, wat gemaak is van mandaryne uit die Laeveld. Sien uit na ‘n sielvolle en sintuiglike produksie.

Meer inligting oor tye, venues en kaartjiepryse is op innibos.co.za beskikbaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button