Local news

Bekende dorpenaar van Sabie hof toe oor vuurwapen in familielid se kar

Nadat daar op 'n 9 mm-pistool, magasyne en patrone beslag gelê is, is Ben Bothma aangekla vir nalatige hantering van 'n vuurwapen. Hy sal op 24 Mei weer 'n verskyning in die hof maak.

‘n Bekende inwoner van die dorp het onlangs vlugtig in die hof verskyn op klagtes van nalatige hantering van ‘n vuurwapen en sakeroof.

Barend Herman Bothma (64), op die dorp beter bekend as Ben, was voorheen ‘n werknemer van ‘n bosboumaatskappy. Hy is ook bekend vir sy rol as voormalige bevelvoerder van die Long Tom-kommando en lid van die skool se beheerraad.

LEES OOK: Mpumalanga High Court sentences sisters’ murderer to two life terms

Bothma se verskyning spruit voort uit ‘n vroeër voorval toe die polisie tydens ‘n roetinestop-en-deursoek-optrede op ‘n vuurwapen in die voertuig van ‘n 32-jarige familielid van hom en dié se vriendin (36) afgekom het.

Volgens brig. Selvy Mohlala, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, het die polisie op Saterdag, 6 Mei, tydens die deursoeking van die voertuig op ‘n 9 mm-Barretta-pistool, agt magasyne en 123 9 mm-patrone afgekom.

Mohlala sê daar is ook op ‘n sakkie vol onbekende wit poeier in die voertuig afgekom.

LEES OOK: Dubbele rugbysege vir dié Laeveld boeties

“Omdat die man nie ‘n lisensie vir die vuurwapen kon toon nie, is hy en sy vriendin in hegtenis geneem.”

Tydens hulle verskyning in die hof op 8 Mei, is die saak teen hulle egter laat vaar omdat beide aangedui het die goedere nie aan hulle behoort het nie. Hulle het glo beweer die wit poeier is mieliemeel.

Mohlala het egter bevestig die saak word verder ondersoek. Volgens hom het die polisie die wit poeier na die forensiese laboratoriums vir ontleding gestuur.

LEES OOK: Corpse found in coffin in stolen bakkie recovered near Ngodwana

Tydens die daaropvolgende ondersoek en ondervraging is vasgestel die vuurwapen behoort aan Bothma, en is hy aangekla vir die nalatige hantering van ‘n vuurwapen ingevolge die vuurwapenwet.

Kol. Donald Mdhluli, ook ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, het Maandag 15 Mei bevestig dat Bothma vlugtig Vrydag 12 Mei in die hof verskyn het en op borgtog van R1 000 vrygelaat is.

Hy moet weer op 24 Mei in die hof verskyn. Die polisie het nie gereageer op navrae oor die besonderhede van die sakeroof nie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button