Bemagtiging vir Lydenburg-buurtwag deur vuurwapenopleiding
Fokus is op die hantering van vuurwapens en gemeenskapsbeveiliging geplaas.
AfriForum se Lydenburg-buurtwag het op 27 Mei vlak 2-vuurwapenopleiding aan agt buurtwaglede aangebied. Die opleidingsdag het op ‘n plaas in die distrik plaasgevind.
Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, het gevorderde skietoefeninge gedemonstreer en die buurtwaglede se kennis oor vuurwapens opgeskerp. Die doel van hierdie opleiding was om buurtwaglede meer bevoeg te maak terwyl hulle patrolleer.
Dit stel die buurtwaglede ook in staat om volgens die wet tydens beveiliging op te tree. Die buurtwagte hoop dat sigbare patrollering een van die mees doeltreffendste afskrikmiddels vir misdadigers is.
“Dit is vir ons lekker om ook op hierdie manier ons buurtwaglede se vaardighede te verbeter. Met beter vaardighede kan hulle hul onderskeie gemeenskappe meer doeltreffend beskerm,” het Van Heerden gesê.
AfriForum se Lydenburg-buurtwag moedig lede van die publiek aan om deel van die buurtwag te word en hul gemeenskap te beskerm. Stuur ‘n e-pos aan Van Heerden: arlo.vanheerden@afriforum.co.za of Zelmari Gelderblom: zelmari.gelderblom@afriforum.co.za vir meer inligting.
