Local newsNews

Gabriëlskloof Wynlandgoed se versnitte val net reg op die tong vir Lydenburg Wyngilde

Die gildelede en gaste is met agt van die 15 Gabriëlskloof-wyne bederf.

Bernhard Heyns was die Lydenburg Wyngilde se spesiale aanbieder by die onlangse proe by Café Crust. Heyns het jare lank na ’n wynplaas gesoek waarop hy gehalte wyne met ’n eie karakter kon verbou. In 2001 het die Avontuurplaas by Botrivier sy droom bewaarheid.

Dit was die begin van die Gabriëlskloof Wynlandgoed, waar die Heyns-familie sedertdien hul wyne as’t ware met die hand begin maak het.

Met die toetrede van Peter-Allan Finlayson as keldermeester in 2014, het ‘n nuwe era vir die plaas aangebreek.

Naas die Gabriëlskloof-reeks het die Landscape- en Projects-reekse bygekom, wat gereeld in wynkringe hoog aangeskryf word. Dit word ook dikwels vir pryse benoem. Die ekovriendelike manier van wynmaak het aan die landgoed biodiversiteitstatus besorg, en hulle is ook al as wynkampioene bekroon.

Lees ook: Potjie golf vir verbeteringe op Lydenburg
Cindy Joubert en Corjan Mulder, van die gaste by die Gabriëlskloofwyn se
proe-aand.

The Blend, ’n bordeaux-versnit uit die Gabriëlskloof-reeks, is as wyn van die aand sowel as beste waarde vir geld aangewys. Die puntetellings het egter gewys dat die Syrah on Sandstone uit die Landscape-reeks ewe gewild was, so ook die enigste witwyn van die aand, die Sauvignon Blanc 2022. Die voorgereg was ‘n uitmuntende prei-en-aartappelsop.

Die twee uitstekende Cabernet Francs van 2018 en 2020 is vir laaste gehou om saam met André du Preez se vissermanspastei met groente te geniet. Lydenburg se Wyngilde proe elke derde Donderdag van die maand opwindende wyne en alle wynliefhebbers is welkom om die verrigtinge by te woon. Vir praktiese redes word getalle tot 32 beperk.

Die lede kry voorkeur met die besprekings, maar gaste is welkom om saam te proe. Whatsapp Gerda Whitehorn by 079 515 7799 vir meer inligting.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button