Dubbele moord by Eggo-grotte, verdagtes steeds op vrye voet
'n Uitgebreide polisie- en burgerlike soektog ná Saterdag 3 Junie se moorde by die Eggo-grotte, word steeds voortgesit.
Honde het die vermeende verdagtes se spore tot by ‘n nabygeleë informele nedersetting, die Mokutong-trustgebied, gevolg, waar dit tussen die blyplekke verlore geraak het.
Anneke Claassen (76) en haar vriend, Hennie Claassen (77), is Saterdag op die plaas Klipfonteinhoek vermoor en aan die brand gesteek. Dis ook die plaas waarop dié bekende grotte geleë is.
Die Limpopo SAPD het bevestig dat beide slagoffers in hul onderskeie huise gemartel is voordat hulle aan die brand gesteek is. Dit is onseker of hulle reeds dood was toe hulle verbrand is. Tydskrifte en komberse is op hul liggame gepak om as verbrandingsagent te dien.
Anneke is Saterdag omstreeks 13:00 vir die laaste keer lewend gesien toe sy vir hulle by die grotte se hotel etes gaan afhaal het.
“Ons vermoed my ma het eers vir oom Hennie sy bord kos geneem en daarna is sy na haar huis. Die verdagtes het haar moontlik ingewag, of sy het hulle betrap. Die kluis is mee gepeuter. Ons kan net bespiegel wat gebeur het. Maar van wat ons kan aflei is niks gesteel nie. Oom Hennie was my pa se neef en ‘n sielsgenoot vir my ma,” sê Carla le Roux, Anneke se dogter.
‘n Plaaswerker het omstreeks 14:15 alarm gemaak toe hy ‘n verdagte met ‘n klapmus van Hennie se huis sien weghardloop het.
Die hotelbestuurder en werkers het terselfdertyd gemerk dat Hennie se huis aan die brand is. Daar was twee toergroepe ten tye van die aanval by die grotte. Een van die toergidse het aan die SAPD bevestig dat hy ook die man met die klapmus sien weghardloop het.
Volgens Cor Cross, woordvoerder van die Ohrigstad-boerevereniging, was hulle net na 14:30 op die toneel. Altesaam 61 vrywilligers het Saterdag saam met die SAPD aan ‘n soektog na die verdagtes deelgeneem.
‘n Operasionele beheersentrum is by Marxpak naby die grotte vir die doel gestig. “Deur hierdie gekoördineerde aksie het die soektog oor 14 km gestrek. Dit het padblokkades naby die plaas ingesluit en uitkykpunte op berge in die omgewing,” het Cross gesê.

Verskeie reaksie-eenhede en plaaswagte van Lydenburg, Ohrigstad, Burgersfort, Hoedspruit en Tzaneen was by die soektog betrokke.
“My ma was nie ‘n bang mens nie. Ek moes haar altyd herinner om alles te sluit. Sy het mense vertrou. Sy was baie gemaklik met almal en het opregte liefde en belangstelling aan almal getoon. Sy was ‘n mededeelsame mens en het almal in haar lewe bederf. Baie mense gaan haar mis. Die plaas is sedert 1920 in die Claassens se besit en die grotte is in 1923 ontdek. Ohrigstad sal altyd ons huis wees. Dis moeilik om my in te dink om plaas toe te ry en my ma is nie meer daar nie,” het Le Roux gesê.
Volgens lt.gnl. Thembi Hadebe, die Limpopo-polisiekommissaris, is die motief vir die moorde nie bekend nie. Hadebe het ook gesê die getal verdagtes is nog nie bepaal nie.

Sy versoek enigiemand met inligting rondom die moorde om kol. Richard Boshomane by 079 894 5501 of sers. Phaladi Makola by 082 749 2233 te skakel.
Anneke laat drie kinders en twee stiefkinders agter. Hennie laat vier kinders agter. ‘n Roudiens vind Saterdag om 10:30 by die Eggo-grotte vir beide slagoffers plaas.
Lees ook: Bemagtiging vir Lydenburg-buurtwag deur vuurwapenopleiding



