Curro-rugby kraai koning by die Mpumalanga Mediumskole rugbyliga!
Vir die eerste keer in die geskiedenis, sal die skool twee spanne in die finaal van die Mpumalanga Mediumskoleliga hê. Die finaal word op 22 Julie beslis.
Curro Nelspruit se eerste rugbyspan het Saterdag 10 Junie aan die halfeindronde van die Mpumalanga Mediumskoleliga deelgeneem.
Hulle het teen Hoërskool Standerton in hul uitklopwedstryd te staan gekom, en het dié oorrompel om met 31-0 te wen.
Volgens Morné Crous, die hoofafrigter van Curro se eerste rugbyspan, het hulle verlede jaar ook hierdie span van Standerton gepak, maar in die ligafinaal.
LEES OOK: How you can go watch Currie Cup final in Bloemfontein
“Ons het ‘n jong span gehad en in die finaal met slegs drie punte verloor,” het hy gesê. Hy noem dat die wete dat hulle hierdie jaar reeds weer dié gedugte teenstanders in die semifinaal sou aanpak, sy span geestelik uitgedaag het.
Wat ook besonders van hierdie span is, is die feit dat hulle dit reggekry het om hierdie seisoen 14 van hulle 15 wedstryde gewen het, en slegs een verloor het.
Crous meen dat hulle ‘wenresep’ is om hard te werk en hul vaardighede te ontwikkel.
“Ons as groep het ingekoop om saam as span te speel en vir mekaar te speel. Elke speler neem verantwoordelikheid vir sy rol op die veld en gee sy als.”
Die span draf ná die skoolvakansie op 22 Julie vir die laaste keer in die liga teen Hoërskool Lydenburg uit. Hulle speel tuis by Curro Nelspruit.
LEES OOK: Healthy competition at the Sportreach Tournament in Mbombela
Curro se tweede rugbyspan sal ook op dieselfde dag in hul finaal met Kanonkop kragte meet. Dit is die eerste keer in skool se geskiedenis dat daar ‘n tweede span in die finaal speel.
Die rugbyprestasies vir Curro hou egter nie net by die liga op nie. Jodi Berlington, die onderkaptein van Curro se eerste span, het vroeër verlede maand die eerste Cravenweekspeler wat die skool opgelewer het, geword.