Rowers teiken twee vroue by munisipale satellietkantoor buite Mbombela
Twee vroue is beroof toe hulle hul munisipale rekeninge wou vereffen het. Die rowers het die vroue glo gewaar toe hulle voor die tyd die geld by ’n bank getrek het, en besluit om hulle agterna te sit.

My lewe is totaal omvergegooi.
So het ’n huilende vrou (63) Woensdag, 28 Junie, gesê nadat sy en haar dogter Maandag deur gewapende rowers in ’n munisipale satellietkantoor beroof is.
“Alles en almal is nou vir my verdag. Ons is nie veronderstel om so te lewe nie,” het die vrou, wat gevra het om anoniem te bly, emosioneel vertel.
Die twee is steeds in ’n erg geskokte toestand nadat hulle helder oordag beroof is. “Ek slaap saans baie sleg, en die voorval spook die hele tyd by my,” het die pensioenaris gesê.
LEES OOK: Warmfees bring warmte vir minderbevoorregtes in Mbombela
Die twee het Maandag, minute voordat hulle die slagoffers van die skynbaar bekende roofbende geword het, geld by die Absa-tak by Crossing Sentrum getrek.
“Op pad na die munisipale kantoor om ons water- en ligterekening te gaan betaal, het ek gesien ’n verdagte voertuig agtervolg ons,” sê die dogter. Sy is ’n 33-jarige onderwyser in die stad. Volgens haar was dit ’n splinternuwe wit Chery wat nog sy tydelike registrasienommer in die agterruit gehad het.
Hulle het by die munisipale kantoor stilgehou en gesien hoe die verdagte voertuig met vier insittendes daar naby stilhou. “Ek en my ma het voor die toonbank gaan staan, en die volgende oomblik het twee mans met klapmusse by die perseel ingestorm. Beide het pistole gehad en dit op ons gerig. Ons het net gevries en glad nie beweeg nie.
“Die een rower het my ma se selfoon en handsak gegryp, haar hangertjie van haar nek afgeruk en haar horlosie afgehaal. Die ander rower het die pistool op my bors gerig en geskree: ‘Waar die geld?! Waar die geld?!” sê die dogter.
KYK OOK: KYK: In die stoel met Laevelder: Sandra Jacobs
Die rower het ook haar handsak en selfoon gesteel. “Hy het probeer om my trou- en verloofringe van my vinger af te ruk. Hy’t my seergemaak, en ek het gesê ek sal dit self afhaal.”
Dit is eers toe dat hulle sien ’n derde man het by die deur waggehou. Hy het langs die munisipaliteit se sekuriteitswag gestaan.
“Toe hulle loop, het ek my ma gegryp en ons het begin huil. Tot ons verbasing het die rowers nie eers weggehardloop nie, maar doodluiters by die kantoor uitgestap!”
Sy het op die parkeerterrein uit gehardloop en om hulp geskree. Die voertuig was reeds weg. Die karwag het probeer om agterna te hardloop.
Die twee vroue was geskok dat die munisipaliteit se sekuriteitswag of enige van die personeel hulle nie probeer help het nie.
Die polisie en ’n sekuriteitsmaatskappy was baie gou op die toneel. Tydens die opvolgondersoek het die polisie op beeldmateriaal van die bank gesien hoe die een verdagte die twee vroue dophou. Kort nadat hulle duisende rande getrek het, het die man by die bank uitgeloop.
“Ons is meegedeel dat die spotter in die bank ’n bekende verdagte in die Laeveld is.”
Laevelder het vasgestel die verdagte is glo in die Laeveld bekend, en kom vermoedelik van Atteridgeville af.
