Só word oupa onthou ná ongeluk in Mbombela
Oupa Hansie du Plessis is onlangs in 'n motorfietsongeluk oorlede. Hy laat 'n leemte in sy geliefdes se lewens, maar hulle het 'n leeftyd se herinneringe om aan vas te hou.

Of dit nou as pa, skoonpa of oupa was, Hansie du Plessis (72) was geliefd onder al sy kinders.
Du Plessis is op 23 Junie in ‘n ongeluk op die R40 oorlede. Sy motorfiets en ‘n bakkie was in ‘n botsing op dié pad betrokke; die oorsaak daarvan is nog onbekend.
Maar hy en sy motorfiets het darem vir ander kosbare herinneringe vir sy familie gesorg. Sy seun, Llewellyn Gomes, sal nooit sy pa se liefde vir musiek, bike-ry en Chinese movies vergeet nie.


Sy dogter, Nikita Heyneke, onthou nog hul laaste rit saam op 22 Junie.
“Om te dink Donderdag was ons laaste ride saam… Dad het my koue hande warm probeer vryf en vir my office-made 500 ml-Pump-bottel-warmwatersakkie gelag.”

Du Plessis se ses kinders, 10 kleinkinders, vier agterkleinkinders en vier skoonkinders voel reeds die leemte van hulle oupa, soos hy maar vir almal van hulle begin bekendstaan het.
Een goue draad loop deur hulle herinneringe: oupa Hans was altyd daar en bereid om te help as iemand dit nodig gehad het.
Elkeen het natuurlik ook hulle eie klein goedjies wat net hulle s’n is, byna te veel om te noem.
LEES OOK: Motorcycle rider dies in R40 accident
Vir skoonseun Rocco van Heerden is een daarvan Du Plessis se rol as skoonpa. “My vriende het altyd vir my gesê hulle skoonpa gee hulle hel en meng in hulle huwelike in en is die moeilikste mense om mee te deel. Wel, ek kon nooit saam hulle praat nie, want ek het een amazing skoonpa gehad.”
Maar Du Plessis het hom wel laat sweet toe hy met sy dogter wou trou, dit onthou Van Heerden baie goed.

“Ek weet watse leegte dit in my vrou se hart gaan laat om hom nie meer daar te hê nie; die gloei in my vrou se oë as sy klaar met hom gepraat het…”
Sy vrou, Martie, beaam dit wanneer sy sê sy het haar “beste, amazingste beste vriend verloor.”
LEES OOK: The sky’s not the limit for Barberton Paragliding Open
“As ek op ‘n Sondag gegroet het, die trane in jou oë en my hartseer hart al die pad terug huis toe, en ons het altyd gesê ons sien mekaar gou weer.”
Nikita, haar pa se ’Kosie“, sê hy was hulle hero, hulle raad, en hulle alles, en in haar oë die beste pa. “Ek kan seker ‘n boek vol dankies skryf. Dankie vir die mens wat Dad was – ‘n regte rolmodel vir baie.”

Sy ander seun, Jacques du Plessis, sê sy pa was sy trots. “Ek onthou die vakansies wat ons saam spandeer het, die gevoel van vryheid in die natuur.
Pa was altyd die een wat eerste reg was en moes wag vir ons om klaar te maak.
Koffiefles in die hand en reg vir die pad. Maar nou is dit net herinneringe wat altyd by my sal bly.”
Nikita se man, Dane, het soos Rocco net sulke goeie herinneringe. “Dankie vir die jare wat ons kon saam spandeer, dankie vir die bederwe in die huis. Ek gaan vir seker daai stoute curry mis wat Oupa altyd gemaak het.

“Die gesnork op die bank, die harde musiek, die lekker kosreuk in die huis, die gesels oor alledaagse gebeure… ons gaan jou mis.
“Die twee kleinkinders verlang ook vreeslik na Oupa, hulle gaan na die speletjies en rondjaag in die huis verlang.
“Rus nou sag en geniet die groen weivelde. Ons sal wel eendag weer ’n rum saamdrink.”

