Local newsSport

Binnenshuise krieketspeler van die Laeveld gaan SA nasionaal in Doebai verteenwoordig

Nicholis Grobler se krieketdroom gaan uiteindelik vanjaar gerealiseer word.

Sy droom is al vir ’n geruime tyd om Suid-Afrika op die hoogste vlak in dié sportsoort te verteenwoordig, en van September tot Oktober gaan hy presies dít doen.

So sê Nicholis Grobler (16), wat die land se o. 17-binnenshuise krieketspan later vanjaar in Doebai by die wêreld se binnenshuise krieketkampioenskappe gaan verteenwoordig. Bo en behalwe dit is hy ook die enigste speler van Mpumalanga wat ’n plek in dié span kon losspeel, “Om in ’n wêreldbekerspan ingesluit te word, is altyd ’n groot eer en voorreg, en iets waarop ’n speler baie trots kan wees,” het Nicholis gesê.

“Dis ’n groot deal om deel te wees van die bestes in die land wat hierdie sport beoefen. Die gevoel is soos die Engelse sal sê, unreal.”

Wat hierdie prestasie van Nicholis nog méér merkwaardig maak, is dat hy op grond van sy vorige wedstryd en persoonlike statistieke as die derde beste speler in sy ouderdomsgroep ter wêreld aangewys is. Hy vertel vir Laevelder dat hy hierdie prestasie glad nie verwag het nie. “Ek was baie verbaas om uit te vind ek is in die top drie. Ek het myself nooit so goed geag nie, so dis iets waarop ek baie trots is en waarvoor ek die afgelope jaar baie hard gewerk het.”

LEES OOK: Woelgees in die Witrivier-gemeenskap laat reuseleemte

Nicholis speel al van sesjarige ouderdom af gewone krieket, maar die binnenshuise krieketgogga het hom vyf jaar later gebyt toe hy by die Lowveld Mambas se provinsiale span ingesluit is. Hierdie span het daardie jaar aan die interprovinsiale toernooi deelgeneem. Van daar af was binnenshuise krieket dié man se eerste keuse.

“Ek verkies dit, want jy as speler is altyd midde in die aksie. Dit beweeg baie vinniger en die spel is gewoonlik baie meer intensief. Elke speler kry ook ’n kans om te kolf en boul- en veldwerk te doen. Jy moet alles in hierdie sportsoort kan doen,” het Nicholis gesê.

LEES OOK: Tegnologievrye vakansietydverdryf by Church Unlimited Nelspruit

Met so ’n prestasie is daar egter ook ’n paar ekstra uitgawes wat aangegaan moet word. “Hierdie toer het ’n enorme bedrag geld nodig, so elke sent wat ons bymekaar kan maak, gaan baie help.

“My toekomsdroom is om die talent wat die Here vir my gegee het uit te leef en te gebruik. Van kleins af droom ek om in ‘n wêreldbekerspan te wees, en dit gaan in September amptelik waar word,” het Nicholis gesê.

Indien daar lesers is wat belangstel om hierdie Laeveldse kriektespeler te ondersteun, kan hulle sy pa, Riaan, by 082 890 5802 skakel. Die Grobler-familie wil ook graag diegene wat reeds hul beursies en harte oopgemaak het om Nicholis te help om sy droom te bewaarheid, hartlik bedank.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button