Kroon van 4×4-uitdagings lewer hope aksie buite Burgersfort
Die Wildevy 4x4 Gesinsdag het vanjaar weer iets in elke feesganger se smaak gebied.
Sowat 3 500 besoekers het Saterdag by die Wildevy 4×4 Gesinsdag saam met die deelnemers elke stofwolk en modderspatsel geniet.
Dit was die Wildevy se 20ste jaar, en 72 deelnemers het vir seker ‘n paar dae later nog modder van hul voertuie afgewas.
Die dag vind jaarliks by die PLM Boerdery (Marone) in die Watervalsrivier tussen Burgersfort en Lydenburg plaas.

Volgens Willem Montgomery, een van die feesorganiseerders, het daar deur die jare sowat 60 000 mense deur die Wildevy se hekke gestroom.
Verlede jaar is bykans R150 000 ingesamel, wat aan organisies sonder winsoogmerk geskenk is.
Die toegangsgelde en skenkings sal weer vanjaar poog om hierdie organisasies se ekonomiese las te verlig.
Die algehele wenners van die dag was Morné en Monique Ungerer.
Die laaste 4×4-item van die dag word die showstopper genoem. Net die braafstes onder die brawes word goedgekeur om hul weg deur ‘n spesifieke moddergat te baan. Die showstopper se wenners was Arrie Heyl en Liandri Pretorius.

Plaaslike sangers, soos Nicolene Breytenbach en haar broer, Wynand, het die feesgangers die hele dag vermaak. Die groot trekpleister vir die aand se vermaak was die bekende sanger, Ricus Nel.
Steelburger/Lydenburg Nuus het ’n bemarkingstalletjie gehad en in die pret gedeel.
Die mense het geleentheid gehad om te raai hoeveel lekkergoed in ’n houertjie was.
Die persoon wat reg geraai het, kon een van twee biltong-en-boereworsgeskenkpakke as eerste prys wen. Die tweede prys was lekkergoed. Die inskrywingsfooi was R20 en die opbrengste sal aan ’n liefdadigheidsorganisasie geskenk word.
Veels geluk aan die wenners: Joshua Hartslief, Alex Delport, Jannas Helm, Cé-Jé Burrows en Shelbé Pieterse.
Besoek www.wildevy4x4.co.za vir die lys van borge.

































