Mara Myburg onthou vir haar bydrae tot Laeveld-rugby
As jy deel van die rugbykringe in Nelspruit was, sou jy waarskynlik vir Mara Myburg geken het. So word dié formidabele vrou onthou.
Die plaaslike rugbygemeenskap het op 6 Augustus ‘n staatmaker en ‘regte rugbyvrou’ met die afsterwe van Mara Myburg (70) verloor.
Mara se man, Arrie, vertel hoe sy as jong 18-jarige van Sterkstroom by familie in Witbank weens ‘n tekort aan werksgeleenthede gaan bly het.
“Ek het haar by ‘n korfbaloefening ontmoet, en die liggies was onmiddellik aan. Ons is in 1972 getroud. Op daardie tydstip het ek as amateur vir Noord-Transvaal gestoei en rugby gespeel. Sy het by die Witbank Rugbyklub se dameskomitee, wat onthale gedoen het, aangesluit.”
LEES OOK: ‘n Oupa, pa en SANParke-kollega duisend word onthou ná seekoei-aanval
In 1981 het die paartjie hulself in Nelspruit gevestig.
“Die rugbyklub se mense het van haar kennis geneem, en ook dáár was sy in die kombuis by onthale betrokke. Die Laeveld het in 1984 ‘n rugbyunie geword, en hulle het toe ook van haar gebruik gemaak. In 1987/8 het hulle haar as sekretaresse van die Laeveldse Rugbyunie aangestel, en sy het daar gewerk totdat SA Rugby van die unies in 1996 verminder het.
“Ons was skaars terug in Witbank, of sy word die ou Suidoos-Transvaalse Rugbyunie se kos-en-onthaaltannie. In 2005 stel hulle haar by die administrasie van die Pumas-uniekantore aan.”
Arrie beskryf Mara as ‘n sprankelende persoon.
“Sy was liefdevol teenoor alle mense, en sy het baie omgegee vir almal wat sy geken het. Sy was lief vir kinders en het graag met haar eie kinders en kleinkinders gespog. Sy het ‘n baie sagte hart gehad en het maklik oor ander se verliese gehuil. Sy was ‘n lojale mens en het almal met respek behandel en ontvang. Sy kon maklik vriende maak en het altyd na ouer persone tydens rugbywedstryde omgesien.
“Sy was baie lief vir my en het my elke dag liefde toegewens.”
Marius van Rensburg van die Pumas het ook vir Mara vir baie jare geken. Hulle het ook saam in Witbank gewerk.
LEES OOK: Hoërskool Nelspruit se mooistes tydens glansaand gekroon
“Die een kenmerk van Mara wat ek kan onthou, is dat sy altyd vol grappies was. Sy het sommer jou dag by die werk opgehelder. Sy was ‘n fenomenale vrou, eintlik ‘n regte rugbyvrou. Sy kom al baie lank saam as deel van Pumas-rugby. Mara was iemand wat daarvan gehou het om haarself te laat geld. Sy het oral betrokke geraak. Maak nie saak wat van haar verlang is nie, sy het dit vir die unie gedoen.”
Van Rensburg vertel dat die egpaar tot op datum elke tuiswedstryd van die Pumas bygewoon het, al was sy nie meer deel van die span nie. Herklaas en Heleen du Preez van die Nelspruit Rugbyklub beaam dat Mara ook altyd by rugbybyeenkomste en funksies betrokke was.
“Ons sal haar warm persoonlikheid en meelewendheid mis.”
