Local newsNews

Simoné lewer hartroerende getuienis in Lydenburg

Bekende aktrise moedig vroue aan om altyd sterk, maar ook sag, met hulself te wees.

’n Mens se doel op aarde en elkeen se herkomsverhaal word nie altyd as ’n onderwerp om die kampvuur aangeroer nie.

Tóg is ’n vrouekonferensie die ideale plek vir so ’n openbaring. Die bekende aktrise, Simoné Pretorius (née Nortmann), het op 2 September haar herkomsverhaal by die Lewende Woord Lydenburg-gemeente se Valère Vrouekonferensie gedeel. Valère beteken om sterk en waardevol te wees.

Haar lewensverhaal het die vroue in trane gelaat, en die krag wat sy uit haar geloof put het duidelik na vore gekom. Nadat haar lys van toekennings en projekte waaraan sy in die dramabedryf gewerk het, voorgelees is om haar bekend te stel, het sy spottenderwys herken dat dit glad nie is waaroor sy met die dames van Lydenburg sou gesels nie.

Die lofpryssingsgroep by Lewende Woord.

Sy het met gemak en ’n sonnige geaardheid haar lewensreis met die gehoor gedeel. Haar ma, Tinkie Nortmann, het reeds voor haar geboorte gewroeg met die wete dat dit vir haar bykans onmoontlik sou wees om haar alleen groot te maak.

Om vir ’n aborsie in die laat 1980’s te gaan, was taboe. Maar toe sy swanger met Simoné geword het, was sy nog in die Suid-Afrikaanse Lugmag, en om as ’n ongetroude vrou swanger te wees, sou haar onmiddellike ontslag beteken het. Tog was dit ’n opsie waarmee Tinkie gestoei het.

Sy het verskeie kere aborsieklinieke, selfs in Botswana, besoek, maar daar het altyd iets voorgeval wat die aborsie uitgestel het. Na vele afsprake was sy egter reeds te ver swanger. Sy het toe besluit om haar kind direk na die geboorte te laat aanneem.

Lees ook: Waardevolle gesprekke by Innibos Boekenaweek

Maar toe sy haar dogtertjie die eerste keer vashou, het al haar planne verander. Simoné het een van die land se geliefste aktrises geword. Haar getuienis van die Here se doel met haar lewe is ’n verhaal wat min mense te verwagte was.

Baie aktrises sal vertel dat hulle hul hele lewe daarvan gedroom het om voor ’n kamera of op die planke op te tree. Simoné het egter vroeër oorweeg om ’n sendeling of onderwyser te word. Sy was die hoofdogter van Hoërskool Centurion en het baie ander belangstellings gehad. Sy was op hoërskool ’n uitruilstudent in Duitsland, het ook drie maande se sendingswerk in Pemba, Mosambiek, gedoen.

Sy het ’n BA-graad in dramastudies aan die Stellenbosch Universiteit voltooi. Sy het in 2012 haar beroep as aktrise in 7de Laan begin en later rolle vertolk in Hartklop, Vir die voëls, Stroomop en Wonderlus, om net ‘n paar te noem.

Sy het erken sy hou van groei en om uit haar gemaksone geruk te word. Sy het die vroue aangemoedig om altyd sterk, maar ook sag, met hulself te wees, en hulle eie waarde te besef.

Sleutelhouers wat uitgedeel is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button