Local news

Beweerde swendelaar stel haar kant van die saak

Volgens die bekende privaat speurder, Mike Bolhuis was Larissa Maritz betrokke by misdade in onder meer Margate, Port Edward, Middelburg, Vanderbijlpark, Bellair, Potchefstroom, Honeydew en Kriel, maar dié ontken dat sy daarby betrokke was.

Hulle het ’n vendetta teen my, en daarom sal hulle alles doen om my naam deur die modder te sleep.

Dit was dié week die reaksie van Larissa Maritz (32), wat tans in Marlothpark woon, oor wie Laevelder onlangs berig het mense na bewering links en regs uit hulle geld uit swendel.

Die ondersoek teen haar word deur Specialised Security Services (SSS) met die bekende privaat speurder, Mike Bolhuis, aan die spits gedryf.

“Ek het nie een van die dinge wat Bolhuis-hulle beweer ek by betrokke was, gedoen nie” het sy vasbeslote aan Laevelder gesê. “Ek het die eerste keer in my lewe met Bolhuis te doen gekry toe ek in 2020 ’n baba in my sorg geneem het wat erg deur haar ouers verwaarloos is. Ek het geweier om die kind vir die ouers terug te gee, en daarop aangedring dat welsyn ingryp. Dit is toe dat ek die SSS genader het vir advies.”

Sy voer aan Bolhuis het gesê sy moet die kind by haar hou, en dat die SSS haar sou bystaan.

Volgens haar is die baba later met behulp van welsyn terug in die moeder se sorg geplaas.

In ‘n stadium het die verhouding tussen Maritz en haar verloofde, Juan Viljoen, en die SSS versuur. “Dit is toe dinge uit die bloute voor my deur gegooi is,” mor sy.

LEES OOK: Mbombela culpable homicide case to commence

Bolhuis beweer sy was betrokke by verskeie plekke waar sy misdade gepleeg het. Volgens hom was sake hangende teen haar en Viljoen in Margate, Port Edward, Middelburg, Vanderbijlpark, Bellair, Potchefstroom, Honeydew en Kriel.

Sy het glo deur middel van sosiale media geld uit mense swendel.

Maritz het teenoor Laevelder volgehou dat sy geen misdade gepleeg het nie. Sy het egter later bes gegee en bevestig dat daar wel ’n diefstalklag teen haar in Margate was. Sy het haar naels daar by ’n vrou laat doen en versuim om die R1 800 te betaal.

“Die saak is teruggetrek nadat ek die vrou betaal het,” bieg sy.

LEES OOK: Pupils of White River school place second in prestigious competition

Maritz het later ook erken dat sy in Port Shepstone skuldig bevind is aan bedrog nadat sy by ’n vakansieoord weggeloop het sonder om haar rekening te betaal. Sy is met R2 000 beboet, met die keuse van ses maande tronkstraf.

Die vonnis is in geheel vir vyf jaar opgeskort.

Volgens haar is sy en Viljoen ook in ‘n stadium in Villieria in Pretoria aangekeer op ‘n klag van diefstal, waarby ’n sleepwa betrokke was. “Ek het die skuld op my gevat omdat die betrokke sleepwa met my kar gesleep is.” Sy is aan bedrog skuldig bevind en met R3 000 beboet.

LEES OOK: Mpumalanga and Limpopo equestrians celebrate Uplands Equestrian Centre Spring Groove Festival

“Vir hierdie dade vat ek verantwoordelikheid. Ek was verkeerd en ek het my pak slae gevat. Ek het my big girl pants aangetrek en besluit dit is nou genoeg.”

In 2021 het Laeveld Media ‘n omvattende berig gedoen oor haar verskyning in die Malalane-hof vir beweerde bedrog toe sy mense uit hulle vakansiegeld geswendel het. Sy ontken prontuit dat dit nie sy was wat in die saak betrokke was nie, en sê sy was nog nooit in Malalane in die hof nie. Dit ten spyte daarvan dat sy skuldig bevind en beboet is.

“Ek bly nou permanent in Marlothpark en bedryf ’n pendeldiens vir mense in die Onderberg.”

Sy was tot onlangs ook betrokke by ’n privaat skool in Komatipoort, maar is afgedank as gevolg van wandade.

LEES OOK: Nelspruit Eisteddfod invites you to its gala evening tonight

Maritz het self gesê sy is bereid om ’n leuenverklikkertoets te ondergaan om haar feite te verifieer.

Intussen het haar prokureur, Anton Rudman van Pretoria, ’n brief aan Bolhuis geskryf waarin hulle eis dat alle sosialemediaplasings oor Maritz verwyder moet word.

Rudman sê indien enige verdere verspreiding van valse inligting oor Maritz verskyn, of indien sy beswadder word, hulle aansoek vir ’n beskermingsbevel teen die SSS sal indien.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button