Woonwaens bied tuiste ná brand in Lydenburg
Vir twee slagoffers van 'n verwoestende brand is daar 'n bietjie lig aan die einde van die tonnel.
Chris Kotze (66) se huis in Rivierstraat en 80 wedvlugduiwe is op 19 Mei in ‘n vlammehel vernietig.
‘n Vriend van hom, Martin Vermaak (77), het in ‘n woonwa op die erf gebly. Beide mans het al hul aardse besittings in die brand verloor, asook ‘n dame wat op die perseël gebly het.
Op 6 September kon Wings of Gratitude, ‘n organisasie sonder winsoogmerk, ‘n woonwa aan Vermaak oorhandig. ‘n Anonieme skenker het dit beskikbaar gestel met die voorwaarde dat dit in Wings of Gratitude se besit bly. Vermaak bly nou in die woonwa op sy skoonseun se erf.

“Wanneer oom Martin die woonwa nie meer nodig het nie, kan ons dit vir iemand anders leen. Vir oom Chris is hout geskenk en met kontantdonasies aangekoop om ‘n Wendy-huis te bou. Ons kort nog net hout vir die vloere. Die houthuis wat oorspronklik aan hom geskenk is, het deur die mat geval. Oom Chris bly op sy erf in Rivierstraat in ‘n woonwa wat Marius Opperman direk ná die brand aan hom beskikbaar gestel het. Ons hoop om eersdaags die houthuis te kan begin bou,” het Toinette Keel van Wings of Gratitude gesê.
Indien daar enige skenkings of kontantdonasies is vir die houtvloere wat benodig word, skakel Keel by 072 680 2434.
