Prag en praal by Lydenburg matrieks se afskeid
Griekse tema sorg vir 'n romantiese, asemrowende aand om matriekleerders se skoolloopbaan mee af te sluit.
Met ‘n tema wat enige persoon na die mooiste Griekse eiland sal kan wegvoer, het Hoërskool Lydenburg se matriekafskeid die gaste in vervoering gehad.
Een na die ander het die paartjies op 28 September op die rooi tapyt hul verskyning gemaak, rustig ‘n koeldrank geniet terwyl hul vriende opgedaag en in die partytjieatmosfeer gedeel het.
Die funksie is in die skoolsaal met pragtige wolkmuurpanele gehou, liggies wat oral gedrapeer was, blou en wit kleivase asook blou en wit borde wat eie aan die Griekse eilande is. Die dekor het geverfde deure, uitgesnyde donkies en katte, asook ander unieke Griekse dekor ingesluit.
Elke matriek se naam is as aandenking op ‘n teël gedruk. Hoërskool Lydenburg oortref hulself elke jaar met die onderskeie temas. Vir die matrieks lê die groot eindeksamen voor en hierdie was die perfekte aand om hul skoolloopbaan mee af te sluit.
Foto’s van matrieks: Michelle Boshoff



















































































































