NewsSport

Vasberade MJ sterk aan met rehabilitasie in Pretoria

MJ het dusver nog net een operasie vir sy beserings ondergaan.

Amper drie maande na hy tydens ‘n rugbywedstryd ‘n nekbesering opgedoen het wat hom as ‘n kwadrupleeg gelaat het, is MJ van Staden in goeie luim en hard aan die werk aan sy rehabilitasie.

MJ, ‘n gr. 11-leerder van Hoërskool Nelspruit, is op 20 Julie tydens ‘n derdespanrugbywedstryd teen Hoërskool Monument beseer toe hy gepoog het om ‘n Monument-speler plat te trek. Sedertdien is MJ se lewe al drasties verander.

MJ is in Mbombela gebore en het by Laerskool Nelspruit begin skoolgaan voor hy sy laerskoolloopbaan in eSwatini klaargemaak het. Hy het by die Nellies begin rugby speel en was verskriklik lief daarvoor. Hy was ook ‘n goeie atleet en jagliefhebber.

“Hy was ‘n baie besige mannetjie,” het sy pa, Marius, gesê.

Maar dit is als nou nie meer vir MJ moontlik nie. Hy het ‘n C4/C5-ruggraatbesering opgedoen en moes op 21 Julie sy eerste en tot dusver enigste operasie ondergaan, wat goed verloop het. Daarna het sy lang herstelpad met fisioterapie en rehabilitasie begin.

Hy was aanvanklik by M-Care Nelspruit ingeboek vir die rehabilitasiewerk, maar is tans by die Mediclinic Muelmed Hospitaal in Pretoria waar hy met ‘n program van 12 weke besig is.

“MJ vorder baie mooi en gym hard en doen baie meer as wat hulle van hom verwag,” vertel Marius. “Hy kom nou al mooi reg om sy foon en tablet te kan gebruik en hulle leer hom ook dat hy klein takies vir homself kan doen.”

LEES OOK: Nellie-rugbyseun op herstelpad ná besering

Volgens Marius is sy gemoed nog hoog. “Hy is baie positief, hy sien uit na die uitdaging en is vasberade om weer te kan loop – met of sonder loopmiddels. Hy wil teruggaan skool toe om sy matriekjaar klaar te maak en natuurlik die jaar met die matriekdans af te sluit. So hy is in ‘n baie goeie gemoedstoestand en veg hard om sy doelwit om weer te kan loop te behaal.”

Alhoewel MJ vir nou ‘n kwadrupleeg is, kan sy prognose nog verander namate die gevoel begin terugkom en beweging moontlik word. “Sy rugstring het skade gekry, maar ons weet nog nie tot watter mate nie. Tyd sal die antwoorde vir ons gee.”

MJ besig met sy rehabilitasie. > Foto’s: Verskaf/Marius van Staden

Intussentyd is ‘n trustfonds in MJ se naam gestig deur drie Laevelders, pa’s van drie van MJ se goeie vriende. Charl Breytenbach, Francois Joubert en Ruvaan Heyns is die trustees van die trustfonds, en het dit gestig.

“Ek het geweet dat as mense geld vir MJ wil skenk, veral besighede, gaan hulle nie noodwendig in iemand se persoonlike rekening wil inbetaal nie,” het Breytenbach aan Laevelder vertel. “Ek het dus met Francois en Ruvaan gesels om eerder ‘n trustfonds te stig waarin mense geld kan skenk om vir MJ te help.”

Volgens Breytenbach is daar klousules in die trustfonds wat sorg dat die geld slegs gebruik mag word om vir MJ se mediese kostes te betaal. “Niks van daai geld mag gaan na klere, kos of enigiets van daai aard nie. Elke sent is slegs om mediese kostes te dek.”

MJ van Staden (middel) tydens die wedstryd teen Hoërskool Monument. > Foto: Christo Dippenaar

Breytenbach sê dat hulle ook in die proses is om ‘n Facebook-blad te skep waar hulle voortaan vir die publiek oor MJ se toestand en herstelvordering kan inlig.

Marius sê hy en die gesin waardeer die ondersteuning van die trustfonds en die groter Laeveld-gemeenskap verskriklik baie. “Dit is regtig ‘n baie groot riem onder die hart om te sien en te ervaar hoe die Nelspruit-gemeenskap agter hom staan en hulp aanbied,” het hy vertel.

“Dis regtig ‘n voorbeeld van wat gedoen en vermag kan word as ‘n gemeenskap agter jou staan. Daarvoor kan en wil ons net vir almal dankie sê.”

Indien jy die trustees wil skakel of ‘n bydrae tot die fonds wil maak, kan jy Breytenbach by charl@rooikatbesig.co.za bereik.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Blake Linder

Blake Linder is based in Mbombela and is a Senior Journalist at the Lowvelder. He carries with him nearly a decade's worth of experience in media. He has previously worked as News Editor, but now primarily focuses on Sport News, having previously won awards for both his sports writing and photography.
Back to top button