AdvertorialBusinessNewsSponsored

ʼn Gids tot die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF)

Die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) het ten doel om jou te ondersteun wanneer jy jou werk verloor, tydelik ongeskik verklaar word om te werk of selfs wanneer jy met kraamverlof gaan. Om dié voordele te kan eis, is dit egter noodsaaklik dat jy die regte dokumente byderhand het, waarvan die belangrikste een die UI-19-vorm is.

Waarom is die UI-19-vorm belangrik?

Die UI-19-vorm is nie net nog ʼn stukkie administrasie nie, maar ʼn wetlike vereiste volgens die Wet op Werkloosheidsversekering (No. 63 van 2001). Jou werkgewer móét dit voltooi en aan jou voorsien wanneer jou diens eindig. Sonder hierdie vorm kan jy nie ʼn eis by die WVF indien nie. Dit bevestig jou werkgeskiedenis en dien as bewys dat jy en jou werkgewer by die fonds geregistreer is.

Wie kan by die WVF eis?

Jy kan voordele van die WVF eis as:

  • jy by die WVF geregistreer is;
  • jy jou bydraes gereeld betaal het;
  • jou diens beëindig is deur aflegging, afdanking of kontrakverstryking;
  • jy tydelik nie kan werk nie weens siekte of besering;
  • jy met kraamverlof is en ʼn verminderde salaris ontvang; of
  • jy ʼn kind jonger as twee jaar aangeneem het.

Benewens die bogenoemde kan afhanklikes van ʼn bydraer wat oorlede is, ook sterftevoordele van die fonds eis.

Voordele van die WVF

Die WVF het die volgende voordele beskikbaar:

  1. Werkloosheidsvoordele
  2. Siektevoordele
  3. Kraamvoordele
  4. Aannemingsvoordele
  5. Sterftevoordele

Watter dokumente het jy nodig?

Om jou WVF-eis te ondersteun, moet jy die volgende gereed hê:

  • ʼn geldige 13-syfer Suid-Afrikaanse identiteitsdokument (ID);
  • jou laaste ses salarisstrokies;
  • jou UI-19-vorm;
  • ʼn dienssertifikaat;
  • bewys van jou bankbesonderhede;
  • mediese sertifikate, aannemingsbevele of doodsertifikate (afhangend van jou eis); en
  • voltooide registrasievorms.

Onthou, alle eise moet binne ses maande ná jou diensbeëindiging of die betrokke gebeurtenis ingedien word.

Wat moet jy doen as jou werkgewer weier om die UI-19-vorm te voorsien?

Soms is die grootste struikelblok nie die WVF nie, maar jou werkgewer. Hier is wat jy in só ʼn geval kan doen:

  1. Stuur ʼn formele e-pos en versoek die vorm.
  2. Rapporteer die saak by die Departement van Arbeid.
  3. Versamel ander dokumente soos jou indiensnemingkontrak, salarisstrokies en bedankingsbrief in.
  4. Indien nodig, dien ʼn dispuut by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) in.

Hoe kan Solidariteit jou help?

Alhoewel Solidariteit nie namens jou ʼn eis kan indien nie, kan ons jou help om die proses reg aan te pak. Ons kan:

  • advies gee oor die korrekte prosedure;
  • jou dokumentasie nagaan;
  • jou help om die vorms reg in te vul;
  • namens jou met jou werkgewer onderhandel;
  • regsverteenwoordiging by die KVBA of die Departement van Arbeid bied; en
  • formele klagtes teen onwillige werkgewers indien.

As jou werkgewer dus weier om saam te werk, is jy nie alleen nie. Jou regte word deur die wet beskerm en Solidariteit is daar om te help dat jy verdien waarop jy geregtig is. Kontak ons Nelspruit-kantoor vandag!

Danny Schutte

Solidariteit-netwerkorganiseerder: Nelspruit

013 235 3698 / 013 235 1814

nelspruit@solidariteit.co.za / danny@solidariteit.co.za

Tiaan Schoeman

Solidariteit-netwerkorganiseerder: Nelspruit

082 497 1749 / 013 235 3698

nelspruit@solidariteit.co.za / tiaan@solidariteit.co.za

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button