Ouerskapverlof in SA verander onmiddellik
Die Konstitusionele Hof het beslis dat Suid-Afrika se ouerskapverlof-wette onregverdig was, omdat dit moeders, vaders, aanneem- en surrogaatouers ongelyk behandel het.

’n Nuwe uitleg geld nou onmiddellik totdat die parlement die wet formeel bekragtig.
Wat verander nou?
- As net een ouer werk, kry daardie ouer vier maande se ouerskapverlof.
- As beide ouers werk kan hulle die vier maande en 10 dae tussen mekaar verdeel. Hulle kan dit opeenvolgend of gelyktydig neem, solank elkeen hul ouerskapverlof aaneenlopend gebruik.
As daar nie ooreenstemming is nie, moet die werkgewer dit so naby as moontlik aan 50/50 verdeel. Die vorige bepaling dat aannemingsverlof slegs geld as die kind jonger as twee jaar is, is ook nou ongeldig. Die bepaling dat geen persoon vir ses weke ná geboorte mag werk nie (tensy ’n dokter verklaar dat dit veilig is), is nog van krag.
Wat beteken dit vir werkgewers en werknemers?
Volgens Theuns du Buisson, ’n ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut, is hierdie verandering ’n tree in die rigting van gelykheid, maar hy voorspel dat dit geen wesenlike impak vir werknemers sal hê nie.
“Hierdie is nie so ’n drastiese verandering nie,” meen hy. Du Buisson sê verder: “Ek voorsien nie dat dit algemene praktyk sal word vir mans om vier maande af te neem wanneer dit hul vrou se verlof sal verminder nie. Die meeste gesinne sien steeds ouerskapsrolle soos in die verlede, en moeders sal waarskynlik steeds die grootste deel van die verlof geniet. My verwagting is daarom dat die vier maande en 10 dae oor die algemeen steeds soos tans verdeel sal word – vier maande vir die moeder en 10 dae vir die vader. In gesinne waar die moeder die broodwinner of ankerverdiener is, sal hulle nou meer buigsaamheid geniet.”
Werkgewers, aan die ander kant, moet hulle die kontrakte en beleid onmiddellik aanpas, die ouerskapverlofparagraaf in hul werknemershandleiding herskryf om die nuwe struktuur te weerspieël, en hul menslikehulpbronpersoneel oplei om ouerskapverlof gelyk toe te pas.
Solidariteit staan, soos altyd, gereed om enige werkplekverwante navrae van sy lede te hanteer en sy lede in die werkplek te beskerm.
Indien jy as lid enige vrae oor jou ouerskapverlof het, kontak ons Nelspruit-kantoor vandag!
• Danny Schutte Solidariteit Netwerkorganiseerder by 084 400 7555 danny@solidariteit.co.za.
