Laeveld Trekkers vier 50 jaar van seën en sukses
Die Bezuidenhout-familie het Saterdag, saam met kliënte, verskaffers en vriende, die 50ste bestaansjaar van Laeveld Trekkers in styl gevier.
Die geleentheid, wat by Die Stoor langs die N4 plaasgevind het, was ’n informele maar deftige viering van ’n onderneming wat diep gewortel is in die Laeveld se landbougeskiedenis.

Die verhaal van Laeveld Trekkers begin met Willie Bezuidenhout, gebore op 20 Maart 1951.
Ná sy militêre opleiding en ’n kort loopbaan by die Departement van Gevangenisse, het hy in 1971 sy eerste tree in die landboubedryf gegee as bemarker van Massey Ferguson-trekkers by Farmec in Malalane.

Sy passie en visie het hom in 1975 gelei om M&D (Malelane en Distrik) Trekkers te stig – ’n besigheid wat later as Laeveld Trekkers bekend sou staan.
Met die agentskap van Deutz-trekkers het Willie vinnig die vertroue van die streek se pionierboere gewen.









Teen die 1980’s het die onderneming ’n markleier geword en sy invloed verder uitgebrei met ’n tak in Rocky Drift. Die naamverandering na Laeveld Trekkers het die groter bedieningsgebied weerspieël en die onderneming se groei beklemtoon.

Wat Laeveld Trekkers uniek maak, is die sterk familiebetrokkenheid. Willie se vrou, Laetitia, en hul kinders het oor die jare ’n integrale rol gespeel.
Wimpie sluit in 1997 aan, Henk in 1999, en in 2022 het die derde geslag sy merk begin maak toe Willem die leisels in die werkswinkel en bemarking oorgeneem het.

Marie en haar man, Alwyn Malan, het in 2005 by die span aangesluit, terwyl die jongste dogter, Laetitia, in 2010 deel van die onderneming geword het.
Hierdie gesinsbetrokkenheid het nie net die onderneming versterk nie, maar ook verseker dat die waardes van geloof, volharding en diensbaarheid van geslag tot geslag oorgedra word.
LEES OOK: Laeveld Trekkers 50 jaar 2026
“Ons skryf die sukses van Laeveld Trekkers aan die Here se genade toe,” het Willie tydens die viering gesê.
Met die jonger geslag se energie en idees het Laeveld Trekkers sy invloed verder uitgebrei.
Vandag bedien die onderneming nie net die Laeveld nie, maar ook gebiede soos Hoedspruit en selfs Matola in Mosambiek, waar dit as Máquinas e Tractores de Moçambique bekend staan.
Waar die besigheid in 1975 met slegs 18 trekkers per jaar begin het, verkoop die groep vandag tot 200 eenhede per jaar.
Die stigting van Laeveld Trekkers Verhuring in 2004 het verder verseker dat kliënte die regte toerusting het om hul lande voor te berei – ’n afdeling wat veral in die suikerrietbedryf ’n groot rol speel.

Die viering van die 50ste bestaansjaar was nie net ’n terugblik op vyf dekades van groei nie, maar ook ’n danksegging.
Drie geslagte Bezuidenhouts het die aand bygewoon, en die gesellige atmosfeer het die hegte bande tussen familie, kliënte en die gemeenskap weerspieël.
Foto’s van die familie en hul kinders het die rykdom van ’n nalatenskap vasgevang wat nie net in trekkers en implemente gemeet word nie, maar in mense en verhoudings.






