
Die mense is egter nou woedend oor die vuil toestand waarin woongebiede gelaat is nadat die Mbombela Munisipaliteit in sommige gebiede twee weke laas rommel verwyder het.
‘n Hoop swartsakke lê voor huise in areas soos West Acres, Steiltes en Stonehenge.
Onwettige rommelstrooiing bly steeds ‘n kwelpunt. Talle versoeke oor dié kwessies beland voor dooiemansdeur aangesien die woordvoerders van die munisipaliteit, Bessie Pienaar en Joseph Ngala, steeds navrae ignoreer.
Hier is wat inwoners oor die kwessie te sê het:
• Mareina Greyling Jansen: “Ons ry deesdae ons eie rommel weg en gaan nie meer vir die ‘diens’ betaal nie.”
• Aletia Cloete en Charmiane Smidt Tecklenburg: “Ons het dieselfde probleem in Dio
Vista, Stonehenge. As mens laat is met betaling is dit ‘n probleem, maar beteken
dit dan die munisipaliteit nie die diens hoef te lewer nie?”
• Mark Taylor: “Soos ek deur die dorp ry, sien ek orals gemors wat ophoop.”
• Sharon Lloyd: “Dit is nie die eerste keer dat dit ‘n probleem in Nelspruit is nie. Kom as ‘n familie bymekaar en ry almal saam na die ashoop toe, dit is wat ons gedoen het.
Ons moet saamstaan!”
• Marlene Olivier: “Goeie genade. Dit is onaanvaarbaar. Mens betaal elke maand getrou jou geld en dan hoor ek ‘n verskoning soos ‘die trokke het die gees gegee’. Maak hulle dit reg? Doen gedurig diens? Ons ongewing is ‘n skande.”
• Etienne Roux: “Wat ‘n sirkus! Die munisipaliteit is nutteloos. Wie sal vir my petrolgeld gee om daagliks Tekwane toe te ry sodat ek self my rommel kan verwyder?”
• Chene Bothma: “Dis ongelooflik frustrerend. Elke maand moet ons getrou die krag en water stiptelik betaal anders sit hulle dit af. Ons moet almal ons swartsakke op hulle stoep gaan sit.”
• Lourens du Preez: “Dis sommer nonsens dat ons ons eie gemors moet aanry en ons lewens moet aanpas om die lewe vir hulle makliker te maak! “As hulle nie hulle werk kan doen nie, moet hulle mense kry wat wil werk! Ons betaal hulle uit ons sakke!
Hulle doen dit nie vir liefdadigheid nie.”
• Gerda-mari Fouché: “Die munisipaliteit is gou om hulle geld vir vullisverwydering te wil hê en as hulle die dag kom, is hulle nog astrant en sê hulle vat net die helfte omdat daar glo te veel is. Natuurlik sal daar meer as gewoonlik wees omdat hulle vir twee weke nie skoongemaak het nie. Nóg ‘n probleem is die feit dat die werkers die hele buurt se sakke op een hoop sit, op een persoon se erf. Dit is om van naar te
word. Die bestuurder van die vullistrok sê ons as inwoners moet hulle keer as
hulle dit doen, maar ek meen my werk is nie om heeldag by die huis vir hulle te
sit en wag nie. Nee wraggies. As die munisipaliteit hulle geld soek, moet hulle
inspring en die dienste waarvoor ons so getrou betaal, lewer.”
