WITRIVIER – Advokate moet weet wanneer daar ‘n slang in die gras is. ‘n Plaaslike een het hierdie gesegde egter kop toe gevat en dié grillerige reptiele is sy stokperdjie.
Wanneer adv. Gert Bensch nie in die hof is nie, is hy doenig met slange as lid van die Laeveldse Herpetologiese Vereniging – ‘n liggaam vir reptielliefhebbers. Hy is ook mede-eienaar van Lowveld Venom Suppliers saam met mnr. Chris Hobkirk, ‘n herpatoloog by die Mpumalanga Toerisme en Parke-agentskap.
Laevelder het met Bensch gesels oor die vylslang wat hy onlangs van ‘n gewisse skietdood gered het. Dié buitengewone reptiel, wat dikwels voor die voet as giftig beskou word, is met ‘n windbuks geskiet en Bensch het hom oor dit ontferm. Vylslange is glad nie giftig nie en hulle dieet bestaan hoofsaaklik uit ander slange. Hy het die suidelike vylslang na die Westacres Dierekliniek vir behandeling geneem. Dr. Johann Viljoen, het X-strale geneem en die slang behandel. Bensch se “kind” is ontslaan en sterk tans by Lowveld Venom Suppliers aan.
Mnr. Daniël Louw, ‘n gelisensieerde slangvanger van Malalane het op 17 Mei dié reptiel op mnr. David Pringle se plaas naby Swaziland se grens gevang. Pringle het hom met ‘n swart mamba verwar en hom geskiet. “Die slang was om 02:00 naby my stoepvenster. Nadat ek hom geskiet het, het ek dadelik vir Louw gebel,” het hy gesê.
“Inwoners moet hulle asseblief nie doodmaak nie. Ons weet slange kan ‘n gevaar vir troeteldiere en kinders inhou, maar skakel eerder die vereniging indien jy een in jou huis of tuin teëkom. Ons sal dan verteenwoordigers in die betrokke gebied stuur om die reptiel te kom verwyder,” het Bensch gemaan.
Dit is juis een van die dienste wat die vereniging bied – om slange veilig te verwyder en te hervestig. “Ek is in Witrivier, Hobkirk in Nelspruit en Louw in Malalane. Ons is omtrent ses wat die diens bied.” Hy het inwoners verder gemaan om die slange so ver moontlik dop te hou sodat dit makliker vir hulle is om die reptiele op te spoor en te verwyder wanneer hulle op die toneel aankom. Bensch en Hobkirk het verder gesê dat dit belangrik is om eerstens kalm te bly en nie te beweeg wanner ‘n slang direk langs jou is nie. Wanneer hy verder as twee meter weg is, is dit belangrik om stadig terug te tree, die situasie te evalueer en nie enige vinnige bewegings te maak nie.
Navrae: Adv. Gert Bensch (Witrivier) op 082-922-3578, mnr. Chris Hobkirk (Nelspruit) op
082-372-3350 en mnr. Daniël Louw (Malalane) op 082-574-0186.
