
Inwoners van Ehmkestraat is keelvol vir die plakkers wat in die parkie tussen die spruit en The Village-winkelsentrum boer. Hulle het gesê dat die situasie besig is om handuit te ruk.
“Mense slaap daar in die aande en hang heeldag daar rond,” het een van die inwoners vertel. Nelspruit Post het gaan ondersoek instel en is deur een van die sogenaamde entrepeneurs gedreig. Hy was besig om langs ‘n onwettige snoepwinkeltjie skoene reg te maak. Daar naby is mans se hare gewas en gesny. Buiten die drie besighede wat bedryf word, was daar 12 mense wat in die parkie rondgesit het.
“Dit word ‘n gesondheids- en veiligheidsrisiko,” het sy gesê. Inwoners voel dat hulle baie betaal om in die area te woon en wil nie oorkant ‘n plakkerskamp bly nie. Die parkie is bestrooi met rommel en ‘n boom dien as ‘n stoorkamer. Daar is vroeër jare ook oor dieselfde parkie berig toe ‘n wit hawelose paartjie, wat as die Knolle bekend was, daar gewoon het. Die munisipaliteit het hulle menigte male weggejaag en uiteindelik traangas gebruik om hulle daar weg te kry.
Die koerant het mnr. Jospeh Ngala, Mbombela se woordvoerder, probeer kontak vir kommentaar, maar teen druktyd was daar nog geen antwoord nie.
