KAAPSEHOOP – ‘n Tragedie het Donderdagmiddag die welbekende en gesiene mnr. Koos “Krokodil” Kruger getref toe sy plaashuis, wat langs die Kaapsehoop Kliniek geleë is, afgebrand het. Kruger was ‘n sersant-majoor in die weermag. Volgens hom het een van die plaaswerkers vuur gemaak en met die sterk winde wat gewaai het, het dit buite beheer geraak.
Die werker se huis het ook afgebrand en vier hektaar makadamiabome is daarmee heen. Kruger, sy broer en skoonsuster het in die huis gewoon. “My skoonsus het net haar handsak gegryp en gehardloop,” het hy vertel. Hulle het alles verloor en woon nou in ‘n stoorkamer op die plaas wat hulle weer sal opbou.
“Dit help nie om in ‘n hoek te sit en huil nie, ons moet aangaan en weer opbou.”Bure en bosboumaatskappye in die area soos Bedrock en Sappi het ingespring en gehelp om die vlamme te blus.
Kruger wil die gesin se vriende vir hul hulp en omgee bedank.
