
MBOMBELA – Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) se kritieke bloedtekort duur voort.
Whanita Parkes het vandag gesê dat hoewel hulle ‘n vyf-dag voorraad probeer voorhou, dit tans op slegs 1,5 dae staan. Die A-groep staan wel op 2,5 dae, maar die belangrike O-groep op slegs 1,5 dae. Die O-groep is baie belangrik omdat bloed van die groep aan enigiemand geskenk kan word.
Gelukkig maak die skole binnekort weer oop. Dit is egter moontlik om te eniger tyd bloed te skenk.
In Mbombela alleen word skenkingsklinieke in die Riverside- en I’langa-winkelsentrums bedryf. Oor die tekort sal hulle vir die volgende twee weke vanaf 09:00 tot 18:00 op weeksdae oop wees, sowel as Saterdae tot 13:00. Mense kan ook by die SANBD se kantoor in Banketstraat skenk, wat ook Saterdag 19 en 26 Julie oop sal wees.
Skenkers moet ouer as 16 wees, ten minster 50kg weeg en oor die algemeen goeie gesondheid geniet. Skakel 080-011-9031 vir meer inligting.
