
Na ‘n maand wat Nelspruit Post oor die ongewensde plakkers in Ehmkestraat berig, is hulle nog steeds nie weg nie.
Al het mnr. Joseph Ngala, woordvoerder vir Mbombela, menigmale gesê dat die plakkers verwyder gaan word, het dit nog steeds nie gebeur nie.
Die twee stalletjies word steeds bedryf en die skoenmaker doen ook nog flink sake. Inwoners is nou al raadop. Die rommel in die parkie is ‘n seeroog en daar hang heeldag ongure karakters rond. Nelspruit Post het wéér vir Ngala probeer kontak, maar het geen antwoord gekry nie.
“Mense slaap daar in die aande en hang heeldag daar rond,” het een van die inwoners wat in die straat bly vertel. Inwoners voel dat hulle baie betaal om in die area te woon en nie oorkant ‘n plakkerskamp wil bly nie.
