
Die bekende swembad wat onlangs deur swembadpersoneel met besems skoongemaak moes word, is nou weer grasgroen en alles behalwe aanloklik.
Die waarheid is, die swemseisoen is om die draai en die vraag ontstaan of Van Riebeeckpark se swembad, wat weliswaar aan die Olimpiese standaard voldoen wat sy grootte betref, gereed gaan wees vir ‘n aangename afkoel- of oefensessie?
Alhoewel die swembad ideaal is vir skool- en klubgalas en onderwaterhokkiewedstryde, is die water net soos verlede jaar hierdie tyd, groen van die slyk. Selfs die ablusiegeriewe is steeds in ‘n haglike toestand.
Bo en behalwe hierdie kwessies wat die publiek daarvan weerhou om hierheen te kom is die perseel onnet, die tuin en grasperk onversorg en word die voetpaadjies nie in stand gehou nie. Na die tweede besoek aan die swembad deur die Department van Kultuur, Sport en Ontspanning op
29 Julie, blyk dit dat dieselfde probleme wat in Augustus verlede jaar voorgekom het, nog nie aangespreek is nie.
Die jongste verslag deur dié departement lui:
• Die swembad word nie skoongehou nie
• Die aantrekkamers is vervalle
• Die kantore waarvoor daar miljoene begroot is, is wel suksesvol voltooi
• Die projekbestuur veroorsaak vertragings wat verhoed dat die swembad op standaard gebring word
• Daar is ‘n tekort aan werknemers
• Die swembad is in ‘n swak toestand, met selfs nuwe teëls wat los is
• Daar is slegs twee lewensredders beskikbaar
• Die spreiligte wat amper 30 jaar oud is, is nie op standaard nie en moet vervang word
• Die algemene instandhouding van die perseel wek groot kommer
• Daar word nie toesig gehou oor werkenemers nie
• Swak beplanning deur die munisipaliteit veroorsaak vertraging van die projek
• Die swembad hou ‘n hoë risiko vir die gemeenskap en swemmers se veiligheid in.
Daar was ook klagtes dat die swembadpomp nooit vervang is nie. In vorige berigte het mnr. Joseph Ngala, woordvoerder vir Mbombela Munisipaliteit, gesê dat nuwe skoonmaakmiddels aangekoop gaan word en dat die swembadpomp vervang sou word.
Na ‘n ondersoek deur mnr. Jo Koster, voorsitter van die DA-koukus, asook me. Ronél Bekker van die Mpumalanga Swem-unie, blyk dit dat die swembadpomp in ‘n werkende toestand is, maar dat daar steeds ‘n tekort aan chemikalieë bestaan.
Koster reken dus dat die swembad nie gereed gaan wees voor die begin van die swemseisoen nie. “As Van Riebeeckpark-swembad reg onderhou word, kan swemmers tot einde Mei daarvan gebruik maak, maar teen hierdie trant gaan die swemseisoen weer laat begin en vroeg tot ‘n einde kom,” sê Koster.
